OUDTSHOORN NUUS - "Hierdie geval is 'n aanduiding van wat gebeur wanneer 'n instelling vasgevang en beheer word deur persone met hul eie selfsugtige oogmerke tot nadeel van die breër gemeenskap wat hulle veronderstel is om te dien.
“'n Munisipaliteit is gevange geneem deur amptenare en politici wat die begroting van die instelling as hul eie spaarvarkie gebruik het." So het regter NC Erasmus op 20 Oktober in die hooggeregshof gesê in sy elektroniese uitspraak tussen Imvusa Trading 1581 BK, die Oudtshoorn-munisipaliteit en ses derde partye, Ronnie Lottering, Francois Human, Omega Bezuidenhout, Lionel Prins, Angeline Lekay en Eva Gxowa.
Almal was op daardie stadium amptenare van die munisipaliteit.
Human is egter oorlede net voor die verhoor begin het. Die regter het bevind dat Lottering en Prins uit hul eie sakke miljoene rande aan die munisipaliteit moet uitbetaal.
Imvusa Trading, waarvan Lekay en Gxowa deel was, het die munisipaliteit vir R4 352 481.73 gedagvaar vir dienste wat hulle tydens 2014 en 2015 gelewer het terwyl hulle gekontrakteer was om slaggate in die dorp te herstel. Die hof het bevind dat die diensvlakooreenkoms tussen Imvusa Trading en die munisipaliteit nie afdwingbaar was nie, en daar was nie noodsaaklikheid om af te wyk van gewone tenderprosesse.
Hier het hul afgewyk deur nie die ander kontrakteur wat die tender gekry het te gebruik nie. Die amptenare het Imvusa Trading in stede van die ander kontrakteur aangestel.
Die munisipaliteit het ook 'n teeneis teen Imvusa Trading van R3 975 896.08 ingedien omdat die munisipaliteit beweer dat Imvusa Trading onregverdig verryk is en meer betaal is as wat hulle moes ontvang. Christo van der Bergh van Coetzee en Van der Bergh Prokureurs, het die munisipaliteit in die saak verteenwoordig.
Die munisipaliteit het twee verskillende diensvlakooreenkomste met Imvusa Trading aangegaan. Die eerste een is deur Human op 13 Augustus 2014 geteken terwyl hy waarnemende munisipale bestuurder was. Hiervolgens moes Imvusa Trading slaggate vanaf 1 Augustus tot 31 Oktober 2014 herstel. Die tweede een is deur Prins onderteken en die afwyking is deur Lottering ondersteun. Hiervolgens moes hulle vanaf 1 November 2014 tot 31 Mei 2015 slaggate herstel. Imvusa Trading het egter net by die twee diensvlakooreenkoms gehou. Die regter het beslis dat die diensvlakooreenkoms en die afwyking om die tweede diensvlakooreenkoms te teken ongeldig was omdat die regte prosedures nie gevolg is nie. "Dit is duidelik dat of mnr. Lottering of mnr. Prins moes geweet het dat dit onwettig optrede."
Die munisipaliteit het R19 747 637.61 aan die slaggat-projek betaal waarvan R11 205 148.55 direk aan Imvusa trading betaal is.
Die regter het verder gesê dat Lekay moes geweet het dat die projek nie aan hulle toegeken kon word nie.
"Lekay is 'n voormalige onderburgemeester van die munisipaliteit. Sy het kennis oor hoe die prosesse werk."
Die regter het die volgende in sy uitspraak beslis:
- Imvusa Trading se kontraktuele eis word met koste afgewys.
- Imvusa Trading se verrykingseis word met koste afgewys.
- Die eis teen Bezuidenhout is met koste afgewys.
- Die munisipaliteit se verrykingseis teen Imvusa Trading is met koste afgewys.
- Absolusie van instansie word toegestaan ten opsigte van die munisipaliteit se eise teen Human, Lekay en Gxowa en met koste afgewys.
- Lottering word gelas om kragtens artikel 32 van die wet op munisipale finansiële bestuur aanspreeklik te wees teenoor die munisipaliteit ten bedrae van R 7 885 244.68, met geen kostebevel nie.
- Prins word gelas om kragtens artikel 32 van die wet op munisipale finansiële bestuur aanspreeklik te wees teenoor die munisipaliteit ten bedrae van R 1, 18 miljoen, met geen kostebevel nie.
Lionel Prins
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'