OUDTSHOORN NUUS - "Hoërskool Oudtshoorn is ontsettend trots dat ons eie leerder, Sarah Jane Lewis, 'n goue medalje by die prestige Statebond- karatekampioenskappe gewen het. Voorwaar 'n uitsonderlike prestasie vir die skool en Oudtshoorn-gemeenskap in geheel."
So het Gerrit Rudolph, skoolhoof van Hoërskool Oudtshoorn, vandeesweek aan Oudtshoorn Courant gesê nadat dit verlede week bekendgemaak is dat Lewis (gr. 10), 'n goue medalje in karate by dié kampioenskappe verower het deur haar teenstander van Cyprus in die finaal te oordonder.
Lewis het meegeding in die kadet vir meisies o.14/15 in die o.47 kg-afdeling.
Die kampioenskappe, wat vanjaar vir die 10de keer plaasgevind het, is vanaf 7 tot 11 September in Birmingham (Engeland) aangebied.
Om Lewis se prestasie in perspektief te plaas moet daar in ag geneem word dat meer as 400 karatekas van 21 lande aan die 10de Statebond-karatekampioenskappe deelgeneem het. Die gasheer het die toernooi afgesluit met 24 medaljes (24 goud, 12 silwer en 27 brons) met Suid-Afrika in die vierde plek met 15 medaljes (vier goud, ses silwer en vyf brons).
Rudolph sê dat die skool, voordat Lewis met die Proteaspan na Birgimham vertrek het, 'n funksie gereël het om haar behoorlik "op die pad te sit" en dat sy 'n verwelkoming soos min kan verwag wanneer sy weer voet op plaaslike bodem sit. Lewis hou tans vakansie by haar ouma wat toevallig ook in Birmingham woon en sal oor 'n week terugkeer Oudtshoorn toe. Oor haar oorwinning het Lewis gesê dat sy nie seker was of sy eers na die eindronde sou deurdring nie.
"Ek bedoel, die atlete daar is wêreldklas, en hulle oefen elke dag, iets wat ons nie doen nie. Maar toe ek die eindronde bereik, het my hart vinniger begin klop, en ek was senuweeagtig. Ek het net by myself gedink ek gaan net my bes doen. Selfs as ek verloor, sou ek geweet het ek het my alles gegee."
Ten spyte van Lewis se sukses was haar pad na glorie nie altyd rooskleurig nie. Volgens haar ma, Cornelia Blauw, was haar dogter op laerskool geboelie en dat dit so erg geword het dat sy later haar selfvertroue begin verloor het met haar skoolwerk wat ook daaronder begin ly het.
"Ons het toe in 2016 besluit om Sarah op die ouderdom van 10 by die plaaslike Jikkai-Do-karateklub in te skryf as 'n manier om haarself te verdedig. Hier het sensei Avril Maarman (eienaar en afrigter) Sarah-Jane die kuns van karate geleer en kort voor lank het sy haar selfvertroue herwin en baie meer gedissiplineerd geraak. Sy het so 'n liefde vir die sport ontwikkel dat sy kort voor lank SWD-, Wes-Kaap-, KSA- en Proteakleure agtereenvolgens verwerf het."
Ondanks Lewis se ongetwyfelde talent sê Blauw dat dit die afgelope paar jare broekskeur gegaan het om haar dogter se karatetoere te finansier deels omdat die regering en munisipaliteite nie regtig sportsoorte soos karate ondersteun soos rugby, netbal en krieket nie.
"Met Sarah se onlangse toer na Kroasië moes ons byvoorbeeld R50 000 bymekaar- skraap en vir die Statebondkampioen-skappe in Birmingham, was die totale bedrag R60 000 wat ons deur middel van fondsinsamelings, weldoeners en vriende ingesamel het. Ons hoop van harte dat die staat meer geld in die toekoms kan allokeer vir sportsoorte en karate omdat sport ook loopbaandeure kan oopmaak," het Blauw gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'