OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (35) wat 'n 11-jarige meisie verkrag het is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê nadat hy vir 'n tweede keer aan verkragting skuldig bevind is.
Ivan Vaaltyn, van die plaas Waterkloof op Vlakteplaas naby De Rust, wat in 2003 sewe jaar tronkstraf vir verkragting opgelê is, het die meisie op 11 Februarie vanjaar verkrag.
Hy het onskuldig gepleit totdat DNS-verslae hom met die misdryf verbind het. Hy het daarna skuldig gepleit en 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
In sy pleitverduideliking sê hy die kind het die dag saam met hom na sy werkgewer se woning gestap om die honde te gaan kos gee.
Op pad terug huis toe het hy haar in 'n bospaadjie neergegooi, haar uitgetrek en verkrag. Daarna het hulle huis toe gestap waar die kind haar ma daarvan vertel het.
Vaaltyn erken dat hy verkeerd opgetree en daarvoor gestraf moet word.
Die staat het vir lewenslange tronkstraf gevra omdat Vaaltyn sy vertrouensposisie misbruik het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Vaaltyn het iets afskuwelik gedoen en sy dade sal die kind altyd bybly.
"Vroue en kinders moet teen mense soos Vaaltyn beskerm word en daarom is die enigste vonnis, dié van lewenslange gevangenisstraf. Daar is geen wesenlike en dwingende omstandighede voor die hof om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk nie. Verder moet die vonnis in die maand van Vrouemaand 'n duidelike boodskap aan alle voornemende verkragters van veral kinders uitstuur dat hulle geen genade van die howe moet verwag nie," het die landdros bygevoeg.
Vaaltyn is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en die hof het ook gelas dat sy besonderhede in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'