PRINS ALBERT NUUS - Die jaarlikse Prins Albert-leesfees het ontwikkel tot 'n hoogtepunt op boekliefhebbers se leeskalenders.
Vanjaar se fees strek vanaf vandag, Vrydag 3 tot Sondag 5 November en is die ideale wegkomkans vir die hele naweek of slegs 'n dag.
Met die Swartbergpas wat nou weer naweke oop is vir verkeer, is die sirkelroete oor die pas tot in Prins Albert en terug deur die skilderagtige Meiringspoort 'n ideale daguitstappie.
Vanjaar se tema is, In die gees van die Karoo, en bied 'n groter verskeidenheid as die vorige vyf feeste. Vanjaar is musiek, komediante en films deel van die program wat beloof om iets vir elke feesganger te bied.
Van die land se voorste skrywers en digters is by die fees. In gesprekke waaraan hulle deelneem kry besoekers die geleentheid om hulle van nader te leer ken. Bekendes in verskillende genres sluit in Hemelbesem, Glynnis Breytenbach, Daniel Hugo, Schalk Joubert, Laurinda Hofmeyr, Rudie van Rensburg, Anzil Kulsen en die Nederlander, Bart de Graaff.
Al die gesprekke vind by die Jans Rautenbach Schouwburg plaas waar 'n restaurant en 'n boekwinkel ook ingerig is. Van die vertonings word in die Showroom Theater in die hoofstraat aangebied.
Vir die volledige program besoek www.princealbert.org.za/leesfees. Kaartjies kan ook hier aanlyn bespreek word.
Vir navrae kontak Linda Jaquet by lkjaquet@mweb.co.za of telefonies by 073 213 3797.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'