PRINS ALBERT NUUS - 'n Sewentienjarige leerder van die Hoërskool Zwartberg op Prins Albert het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op 'n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy 'n medeleerder verlede Donderdag verskeie keer met 'n mes op die skoolterrein gesteek het.
Die aanval, tydens pouse, om omstreeks 09:50, het ten aanskoue van talle ander leerders gebeur. Die seun is op die toneel in hegtenis geneem nadat die hoof, Ricky McKnight, die polisie en mediese dienste ontbied het.
Die slagoffer, 'n gr. 11-seun (18), is in die plaaslike hospitaal opgeneem. Die vermeende oortreder, in gr. 9, is ná assessering deur die polisie in die sorg van sy ouers vrygelaat hangende sy hofverskyning, het kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê. Volgens McKnight het die leerder gister (Donderdag) voor die skool se beheerliggaam verskyn.
Na verneem word het die vermeende aanvaller die dag ná die aanval weer by die skool opgedaag en buite die terrein gestaan en kinders gedreig. Die polisie het hom 'n tweede keer verwyder en hom en sy ouers oor sy gedrag gewaarsku.
McKnight het dit beklemtoon dat die skool sy eie, interne tugproses volg, onafhanklik van die polisieondersoek, wat steeds voortduur.
Marvon de Vos, staatsaanklaer, het bevestig dat die seun voor landdros Tom Claassen verskyn het. Die publiek is nie by die hofverrigtinge toegelaat nie omdat die vermeende aanvaller jonger as 18 is. "Dit was 'n voorlopige verskyning, onder die Kindergeregtigheidswet.
"Die saak is uitgestel vir die senior staatsaanklaer se beslissing."
Ooggetuies van die voorval vertel dat die slagoffer glo per ongeluk teen die vermeende oortreder vasgeloop het, waarna laasgenoemde 'n mes uitgepluk het. "Hy het die kind van agter af aan die kraag beetgekry en hom sewe of agt keer gesteek," het 'n leerder aan Oudsthoorn Courant vertel.
Die slagoffer is glo teen die voorkop, agter die rug naby sy niere, asook op sy arms en hande gesteek toe hy die aanval probeer afweer het.
McKnight het by navraag gesê die skool volg in gevalle van skoolgeweld die streng voorskrifte van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en dat die vermeende oortreder voorlopig geskors is.
Volgens hom is dié geweldsvoorval die enigste ooit van dié aard nog in Zwartberg. "Dis 'n geïsoleerde geval. Die skool het 'n bestaande veiligheidsplan. Terreindiens word gereeld gedoen, veral in pousetyd en daar is altyd onderwysers in die gange tussen periodes."
Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, het by navraag gesê beamptes van die Veilige Skole-program werk nou saam met skole en verwante liggame om openbare skole te beveilig.
Intussen het een van die skool se ouers gesê 'n groep ouers het vergader en eis dat die oortreder nie weer in die skool toegelaat word nie.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'