OUDTSHOORN NUUS - Tydens die onlangse Agri Wes-Kaap-streekkongres is Laubscher Coetzee, voorsitter van Agri Klein-Karoo, vir die negende agtereenvolgende jaar as streekbestuurslid en koördineerder van Agri Wes-Kaap, herkies.
Hy vertel dat die posisie 'n groot verantwoordelikheid is wat baie tyd in beslag neem, maar dat dit vir hom 'n groot voorreg is.
"Dienslewering aan die gemeenskap asook my primêre passie vir klein- tot mediumgrootte boerderyondernemings maak dit die moeite werd."
Hy vertel dat almal in dié bedryf 'n rol het om te speel - boere verskaf werk, hulle koop implemente aan en verkoop produkte; al hierdie faktore het 'n groot impak op die ekonomie.
Tydens die droogte het Laubscher sy fokus op Agri Wes-Kaap geskuif en het hy by hulle natuurlike hulpbronne komitee betrokke geraak. Volgens hom is dit ook hoekom hy in 2021 en 2022 as visevoorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid: natuurlike hulpbronne gekies is.
"Sonder natuurlike hulpbronne kan geen boerdery voortbestaan nie, dit is iets wat my na aan die hart lê," vertel hy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'