OUDTSHOORN NUUS - Met haar besoek aan Oudtshoorn het minister Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport hierdie week ook 'n draai by die sportstadion op Lategansvlei gemaak.
Die sportstadion wat die afgelope aantal jare deur Dario Urbanski, plaaseienaar, met behulp van finansiering
uit Duitsland opgerig is, is gereeld die tuiste van sokkerwedstryde vir spanne uit die gemeenskap. Daar is ook 'n opleidingsentrum waar vroue handwerk doen vir buitelandse kopers. Tydens die minister se besoek is vlugbal- en sokkerwedstryde gespeel en 'n dansgroep is spesiaal uit Calitzdorp laat kom om vir die minister op te tree.
Volgens Tertius Simmers, die DA se kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn en Kannaland het die minister verskeie projekte in omliggende gebiede buite Oudtshoorn besoek. "Dit is deel van die Wes-Kaapse regering se fokus op 'n holistiese benadering om almal in ons gemeenskappe saam vorentoe te neem," het hy gesê. "Die minister was ook hier om alle vroue aktiviste in ons gemeenskap, ongeag hul politieke affiliasie, te bedank vir hulle kardinale rol in ons gemeenskap."
Die minister is deur Oudtshoorn se speaker, Julia le Roux en raadslid George Kersop vergesel.
Tertius Simmers, minister Anroux Marais en Dario Urbanski by een van die sokkerspanne wat gereeld op Lategansvlei se puik sokkerveld speel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'