OUDTSHOORN NUUS - Persone wat hulself daaraan skuldig maak om met lasers in die rigting van vliegtuie of helikopters te mik kan tot 30 jaar gevangenisstraf opgelê word. Dit is volgens die Burgerlugvaartwet 13 van 2009. In die wet bepaal Artikel 133 dat enige persoon wat met opset die veiligheid van 'n lughawe, of enige vliegtuig of helikopter of persoon wat by lugvaart betrokke is, in gevaar stel, swaar gestraf kan word.
Uit 'n inligtingstuk wat deur vliegskole in die Suid-Kaap beskikbaar gestel is, blyk dit dat mense wat lasers gebruik, nie bewus is van die gevare wat dit vir lugvaart inhou nie en ook nie besef dat dit 'n kriminele oortreding kan wees nie.
'n Aanhaling uit die stuk lui: "Die gevaarlikste scenario ten opsigte van lasers is wanneer hulle in die rigting van vliegtuie in die lug gemik word wat tydelike blindheid van die loodse kan veroorsaak. Dit is veral gevaarlik op kritieke tye soos met die voorbereiding van landings en wanneer lugverkeer swaar is."
Met moderne tegnologie is lasers, wat vrylik beskikbaar is, uiters kragtig en kan die lig etlike kilometers strek. Dit is veral groen lasers wat gevaar inhou. Volgens die inligtingstuk moet lede van die publiek toesien dat laserstrale nie na willekeur na die hemelruim gemik word nie en mag lasers glad nie in die rigting van enige lughawe of vliegtuig gemik word nie.
Elke voorval van lasergebruik wat deur vliegtuie van vliegskole in die Tuinroete opgemerk word, word onmiddellik aangemeld. Dit blyk dat daar 'n toename in die gebruik van lasers in die gebied is en elke voorval word ondersoek met die oog op vervolging. Juis omdat die gebruik van lasers uiters gevaarlik vir lugvaart is, het vliegskole in die Tuinroete besluit om aanboord-tegnologie van hulle vliegtuie te gebruik om met behulp van GPS-bepalings die oorsprong van 'n laserstraal te bepaal. Sodra 'n ligging van 'n laserstraal bepaal is, word dit aan die polisie deurgegee.
Die vliegskole doen 'n beroep op die publiek om mense en veral kinders wat met laserstrale speel, oor die gevare in te lig en ook om moontlike oortredings van die wet by die polisie aan te meld.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'