OUDTSHOORN NUUS - Bekende dramaturg, digter, joernalis en politikus, CJ Langenhoven sou Saterdag 150 jaar oud geword het.
Lede van die FAK, Langenhoven Gedenkfonds en verskeie aanhangers het Sondag by die Neelsie in Oudtshoorn byeengekom om sy verjaarsdag te herdenk.
Volgens Elizma Smith van die FAK, Kaapprovinsie, was Langenhoven 'n baanbreker en kampvegter vir Afrikaans.
"Hy was aanvanklik ten gunste van Engels as voertaal in die land omdat dit beter was as Nederlands en Afrikaans nog nie ten volle ontwikkel het nie. Hy het egter van plan verander en besluit dat hy Afrikaans as taal in die land gaan help groei. Hy het van sy toneelstukke gratis weggegee sodat mense dit kan opvoer om die taal op hierdie manier na ander mense te neem. Hy het in elke genre in Afrikaans begin skryf en was ook die redakteur van die Het Suid Western waar hy verder gegaan het om die taal te bevorder."
Izak de Vries, van die Langenhoven Gedenkfonds, het gesê dit is 'n seldsame verskynsel dat 'n skrywer byna 150 jaar na sy geboorte en 90 jaar na sy dood steeds as redakteur, taalstryder, outeur en politikus gehuldig word.
"Sy werk is in 'n verskeidenheid formate vasgevang; van minnebriewe aan sy jeugliefde tot spookstories tot fantasie tot wetenskapsfiksie."
Volgens De Vries het sy werke behoue gebly omdat Langenhoven die persoon was wat die volk soveel dekades gelede leer lees het.
"Sy bydrae om Afrikaans in laerskole as voertaal en onderrigmedium erken te kry het dit vermag. In 1914 is Afrikaans as onderrigmedium erken. Wet No. 8 van 1925 is op sy versoek opgestel en op 8 Mei 1925 eenparig aanvaar wat Afrikaans en Engels as erkende, amptelike landstale van Suid-Afrika bekragtig het."
Gaste kon hul gunsteling aanhaling van Langenhoven voorlees en na afloop van die verrigtinge is kranse op sy graf neergesit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’