OUDTSHOORN NUUS - Die Kangovalleie-landbouverening, wat boere vanaf Buffelsdrift tot by Matjiesrivier bedien, ploeg gereeld fondse en kundigheid terug in verskeie gemeenskappe in die omgewing.
Fondse wat nog beskikbaar was na die aanbied van 'n suksesvolle gholfdag geruime tyd gelede is aangewend om 'n voetpaadjie by Belliganhof op te knap.
"Ons het die besluit geneem om met ons gholfdag-fondsinsamelingsprojek uit te reik na ons dorp se bejaardes. Ons kon voorverlede jaar reeds 'n aantal verwarmers aan twee tehuise vir bejaardes oorhandig en op daardie stadium het Bellinganhof die behoefte van 'n nuwe teeroppervlak vir die paadjie uitgespreek. As gevolg van die streng Covid-19-maatreëls is die teerwerk van die paadjie vertraag, maar dit is nou afgehandel," sê Francois de Kock, komiteelid wat verantwoordelik was om hierdie skenking te fasiliteer.
Volgens 'n versorger van Bellinganhof doen hulle alles in vermoë om die bejaardes aan te moedig om aan die beweeg te bly. "Die paadjie was voorheen baie ongelyk en die inwoners moes baie versigtig stap om seker te maak dat hulle nie val nie. Dit was ook baie moeilik vir diegene wat van looprame gebruik maak om die paadjie te gebruik. Ons is so bly dat die paadjie nou meer begaanbaar is."
Die Oudtshoorn Courant het in die koerant geskryf dat die voetpaadjie by Tuishuis reggemaak het. Dit is egter by Belliganhof reggemaak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'