OUDTSHOORN NUUS - Sy pa het hard gewerk om te bereik wat hy bereik het maar dit is God wat hom die krag gegee het en al die lof moet kry.
So het dr Virl Tait, oudste seun van Lionel Patrick Tait,(76) laaste rektor van die Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK), tydens sy pa se roudiens in die Verenigende Gereformeerde Kerk gesê.
Virl het na aanleiding van Psalm 139 die begrafnisrede van sy pa gelewer. Met verwysing na suksesvolle sakemanne het dit ook beklemtoon dat dit God is wat al die dankbaarheid daarvoor verdien.
“Niks in die lewe kan bereik word sonder God nie,” het dr Tait gesê.
Ds André Boezak het Lionel Tait, oorspronklik van Kimberley, beskryf as die grootste diamant wat aan Oudtshoorn geskenk is.”Hy was ‘n diamant in God se kroon en dit was ‘n groot eer om hom met ons in Oudsthoorn te kon gehad het. Daarom kan ons hom met blydskap aan die Here teruggee,” het Boezak gesê. 'n Familievriend,,Tyrone Palm, het in sy huldeblyk gesê Tait was ‘n man wat nie met die tweede beste tevrede was nie.
“LP was ‘n man van hoë standaarde en ‘n intelektualis” het Palm gesê.
“Hy was ‘n man wat geglo het in gelyke regverdigheid volgens wet en het selfs tydens die destydse onluste vir ‘n week saam met van sy studente tronktoe gegaan om toe te sien dat hulle regverdig behandel word. Dit was ook hy wat ontgroening by die kollege stopgesit het. Palm het ‘n beroep op almal gedoen om die nalatenskap van Tait na te streef.
Tait was rektor van OKSK vanaf 1983 tot die sluiting van die inrigting deur die onderwysowerhede in 1996 en by studente bekend as ”Die Thor”,
Hy word deur talle as ‘n omgeemens beskryf. Hy was vir in 1994/95 president van die Oudtshoorn Rotariërs en vir baie lank sekretsris van die organisasie.
Hy het 'n tyd lank as bestuurder van die CP Nel Museum waargeneem en ook vir baie jare op die beheerraad gedien. Hy was vir 25 jaar op die beheerraad van die Eljada Nasorgsentrum vir volwassenes en die laaste paar jaar ondervoorsitter. Tait laat sy vrou, Dulary, twee seuns, Virl en Llyle, hul eggenotes, Nike en Simony, vier kleinkinders, Gracey, Samuel, Nathan en Savannah, twee broers en 'n suster agter.
Lionel Patrick Tait se seuns,Virl (voor) en Llyle (tweede van links) saam met familielede na die diens. Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'