KAROO NUUS - Die doelwit is steeds om teen Donderdag 15 Februarie heeltemal klaar te wees met die herstelwerk van die transmissietorings wat op 2 Februarie weens 'n storm omgeval het.
Volgens Wouter Kriel, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, is hul grootste mikpunt steeds om die mense in die dorpe te ondersteun met basiese dienste en ook kos. Hulle wil ook Eskom ondersteun met die verkryging van ekstra masjiene.
"Hulle sukkel met die laaste vier gate wat gegrawe moet word vir die tydelike pale, en hul rotsboor het oor die naweek die gees gegee."
Volgens Kriel werk hulle hard daaraan om kragopwekkers te kry waar dit die nodigste is.
"Met vlak 6-kragonderbrekings die naweek, het munisipaliteite hul kragopwekkers op eie bodem nodig. Die lang ure eis ook sy tol op die masjiene. Kannaland het die naweek een van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se 65kVA opwekkers gebreek. Ons gaan ondersoek wat presies gebeur het. Ons soek ook nog opwekkers vir Leeu Gamka en Prins Albert Weg."
Die langdurige Eskom-elektrisiteitsonderbreking het ook gelei tot 'n wydverspreide behoefte aan voedselverligting.
Volgens Monique Mortlock-Malgas, woordvoerder van Sharna Fernandez, minister van departement van maatskaplike ontwikkeling, het baie mense bederfbare voedsel verloor weens hul onvermoë om produkte soos vleis en groente in yskaste te stoor.
"Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) het noodverkrygingsprosedures geaktiveer om te verseker dat die nodige maatreëls getref word om die mees kwesbare gemeenskappe by te staan. Die departement se maatskaplike werkers en gemeenskapsontwikkelingswerkers doen assesserings om inwoners te identifiseer wat 'n uiters hoë risiko van wanvoeding/honger het. Hierdie inwoners sal na verskeie terreine verwys word om voedingsondersteuning gedurende hierdie onderbrekingsperiode te ontvang," het sy gesê.
Volgens haar het DSD voedingsontwikkelingsentrums ondersteun om hul kapasiteit uit te brei om voedsel aan meer inwoners te verskaf as waarvoor hulle reeds voorsiening maak.
Die departement het ook met munisipaliteite in die betrokke streek geskakel om verspreiding te bespreek.
"Die departement het begin met 'n voedselverligtingsprogram, wat na verwagting 'n geraamde 20 000 begunstigdes sal bevoordeel. Behoeftige huishoudings in verskeie dorpe in die Sentraal-Karoo sal oor die volgende paar dae bygestaan word."
Fernandez, sal die verskillende gebiede besoek waar voedselverligtingspogings sal plaasvind.
“Dankie aan die ongelooflike DSD-span wat 24 uur per dag gewerk het om die nodige materiaal vir die voedselhulpprogram te bekom, en om te verseker dat ons niemand mis wat in die nood verkeer nie. Ek weet dat kwesbare inwoners, soos bejaardes en diegene wat in armoede leef, 'n uitdagende week gehad het, en ek bedank die munisipaliteite dat hulle so nou saam met ons werk in ons pogings om ondersteuning te bied,” het Fernandez gesê
Die departement het ook die drie ouetehuise in Prins Albert, Laingsburg en Ladismith in staat gestel om diesel vir kragopwekkers te koop aangesien hul dieselvoorraad min raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’