Dié tema is deur staatspresident, Jacob Zuma, tydens sy staatsrede aangekondig. Die verjaarsdag van Madiba word jaarliks op 18 Julie gevier waar alle Suid-Afrikaners gevra word om slegs 67 minute van hul dag op te offer om iets vir 'n ander persoon te doen.
Vanjaar se Mandeladag is die eerste een sedert die wêreldbekende ikoon oorlede is.
Die bestuur en lede van die korrektiewe dienste op Oudtshoorn het besluit om nie tot 18 Julie te wag nie, maar het reeds 10 dae voor die tyd begin met operasie skoonmaak. Volgens die hoof van die sentrum en van die Karoostreek, Cliffie Strydom, het hulle besluit om uitvoering aan die president se opdrag te gee en die hele span gemobiliseer om te begin opruim en skoonmaak. " Wat is dan nou beter as om voor jou eie deur te begin skoonmaak," het hy Dinsdag gesê terwyl hy van span tot span gegaan het en self met ‘’n graaf aan die werk gespring het.
Lede en die gevangenisbevolking van Oudtshoorn korrektiewe dienste het Dinsdagoggend vroeg, terwyl die ryp nog spierwit gelê het, reeds aan die werk gespring om die sentrum se terrein te begin skoonmaak en op te ruim. Hope tuinvullis wat opgegaar was is weggery, strate is gevee en stormwaterslote is skoongemaak, onkruid is uitgeskoffel en plastiekvullis wat hier en daar rondgelê het is opgetel. Terwyl spanne oral op die terrein en in die geboue besig was het 'n paar lede self aan die werk gespring en die hoofingang van die terrein 'n nuwe blink gesig gegee.
Strydom het gesê die bestuur van die sentrum het ook self ingespring om enersyds ‘n voorbeeld te stel, maar om andersyds hulle deel te doen om ‘n verskil te maak net soos Mandela ‘n verskil vir die land gemaak het.
"Dit lyk nie net skoon en netjies nie, maar ons kan ook trots wees op 'n netjiese woon- en werksplek." Hy het bygevoeg dat hierdie projek slegs die vertrekpunt is en dat korrektiewe dienste Oudtshoorn die projek gaan volhou met die hoogtepunt op 18 Julie.
Die bestuur en lede van Oudtshoorn korrektiewe dienste het Dinsdag self ingespring om die terrein op te ruim. Regs voor is die sentrumhoof, Cliffie Strydom, met Jerom Lambaatjeen heel links. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'