OUDTSHOORN NUUS - Die munisipaliteit sê dat hulle opgemerk het dat dit toenemend gebeur dat individue sowel as kleiner groepe munisipale kwessies gebruik om eie platforms in die gemeenskap te skep.
"Hulle versoek dan om die burgemeester van die Groter Oudtshoorn en die munisipale bestuurder te sien om klagtes te bespreek," sê Hannes Visser, woordvoerder: Oudtshoorn-burgemeester.
"Sommige groepe wend hulle ook tot sosiale media om petisies of versoekskrifte aan die burgemeester en munisipale bestuurder te oorhandig. Inwoners word daarop gewys dat daar spesifieke roetes gevolg moet word om klagtes onder die burgemeester en munisipale bestuurder se aandag te bring," sê Visser.
Die volgende roete moet gevolg word:
• Inwoners moet kwessies ten eerste met hulle wyksraadslede opneem waarna dit deur die raadslede oorgedra sal word.
• Geen afsprake oor kwessies wat dienste aanbetref sal voortaan toegestaan word indien die wyksraadslid nie eers genader is nie.
• Wat petisies aanbetref is dit belangrik om te weet dat daar nie op petisies wat op sosiale media begin word, gereageer sal word nie.
• Petisielyste wat aan die munisipaliteit gerig word moet petisielede se handtekeninge, name, vanne, identiteitsnommers sowel as woonadresse bevat sodat daar geverifieer kan word dat die persone wel inwoners is.
"Die Groter Oudtshoorn word deur 'n demokraties verkose raad bestuur en elke wyk het 'n verkose wyksraadslid wat gekontak kan word om inwoners by te staan," sê Visser.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'