OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep ontstoke kontrakteurs van Oudtshoorn het Maandag 'n kontrakteursfirma van Kaapstad, Zebra, verhoed om 'n deel van Parkweg te teer.
Volgens een van die plaaslike kontrakteurs, Deon Donson, is hulle veronderstel om saam met groot kontrakteursfirmas te werk.
Die Kaapse-kontrakteurs het stukke van die sement in Rademeyerstraat sowel as Parkweg gelig wat Maandag met teer gevul moes word.
Die werk kon egter nie voortgaan nie omdat die plaaslike kontrakteurs hulle verhoed het om voort te gaan.
"Die groot maatskappye kry al die kontrakte en dan bring hulle hul manne saam om die werk te kom doen. Ons plaaslike mense is veronderstel om hulle daarmee te help en die groot maatskappye moet net mense vir die masjinerie bring. Die munisipaliteit is besig om geld buite Oudtshoorn te spandeer, terwyl hier soveel werkloses is wat die werk kán doen, maar nie die geleentheid gegun word nie," het hy gesê.
Volgens Donson is plaaslike kontrakteurs deur Zebra opgelei om die werk te kan doen en is hulle gekwalifiseerd om die teer te kan lê.
Plaaslike kontrakteurs was warm onder die kraag omdat 'n firma buite Oudtshoorn die kontrak vir die herstel van Parkweg gekry het. Foto's: Liezl van Niekerk
"Ons gesinne ly honger omdat die werk nie deur plaaslike mense gedoen kan word nie. Ons mense sal nooit werk in 'n ander dorp kan doen nie, omdat daardie inwoners net so kwaad gaan wees. Dit is nie regverdig teenoor ons wat regtig wíl werk nie."
Die plaaslike kontrakteurs het 'n vergadering met munisipale amptenare geëis. Zebra se werkers het die werk aan die pad onder polisiebewaking voortgesit.
Lees 'n vorige artikel: Gedeelte van Parkweg gesluit
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'