OUDTSHOORN NUUS - Die eerste Teksmark Oudtshoorn vind op Saterdag 29 Mei by die Oudtshoorn-burgersentrum plaas.
Plaaslike aspirantskrywers gaan hul verhoogteksvoorstelle voorlê en inwoners van Oudtshoorn en die Tuinroete word genooi om dit by te woon.
Sewe uittreksels van die amateurskrywers, Leach van der Westhuizen, Ludwig Siwa, Theo Witbooi, Tiffany Saterdaght, Hannes Visser (redakteur van Oudtshoorn Courant), Jopie Coetzee en Veruschka Cobus word as leesteater aangebied. Daar word ook ’n uittreksel van Die halwe huis (geskryf deur Ricardo Arendse) as ’n voorsmakie van dié produksie wat vervaardig sal word om tydens die volgende fees opgevoer te word.
Ricardo Arendse, bekende skrywer wat in Oudtshoorn groot geword het, sal ook ’n teks voorlê met Marlo Minnaar op die verhoog. Minnaar is ook 'n bekende Oudtshoorniet wat op onder meer Suidooster, Sara se Geheim, en 7de Laan te siene was. Lee-Ann van Rooi, ’n formidabele skrywer en regisseur, is regisseur van dié uittreksel.
Ilse Oppelt, van Fishy Fêshuns, Klein Karoo en Born to Win en draaiboekskrywer van vele televisieprogramme, sal saam met Hugo Theart (artistieke direkteur van die KKNK) as aanbieders tydens die geleentheid optree.
Dié projek sal deur die organiseerders van die KKNK gebruik word om talent te identifiseer vir toekomstige deelname aan die jaarlikse fees en ander platforms en ook ’n geleentheid bied om die plaaslike stories te vertel.
Dit is gratis vir gehoorlede en begin om 16:00, maar besprekings is noodsaaklik omdat daar weens Covid-19-maatreëls slegs 50% van die teater se sitplekke gebruik kan word.
Besprekings kan by Shandré Harris gemaak word.
Storiesirkel-sessie
Daar word ook Saterdagoggend 'n Storiesirkel-sessie aangebied. Die KKNK nooi kunstenaars, storievertellers, digters en gemeenskapsleiers om stories van hul gemeenskap te kom deel. Met dié interaktiewe werksessie sal deelnemers gelei word deur prosesse om stories te ontwikkel, struktureer, oor te dra en hoe of waarheen om dit verder te neem.
Die sessie word deur Amelda Brand, lektor by die drama-departement van die Universiteit Stellenbosch aangebied.
Die werksessie begin om 08:30 vir 09:00 tot 14:00 by Die Neelsie (KKNK-kantoor).
Deelname is gratis en ligte verversings sal verskaf word.
Besprekings kan by Shandré Harris gemaak word by 044 203 8600, of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337 of stuur ’n e-pos na shandre@kunste.org.za.
Alle Covid-19-protokol sal gevolg word. Maskers moet gedra word en veilige sosiale afstand behou word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'