OUDTSHOORN NUUS - Vyf onderwysers verbonde aan Vlakteplaas UCC Primêr, was verlede Donderdag gelukkig om die dood of ernstige beserings vry te spring toe 'n koedoe, uit die bloute voor hul Ford EcoSport ingespring het.
Alhoewel die motor erg beskadig is, het die insittendes slegs by die Oudtshoorn-hospitaal aangedoen vir skokbehandeling.
Die ongeluk het in die omgewing van 15:00 plaasgevind. Die insittendes was onderweg na Oudtshoorn toe die insident gebeur het.
Die bestuurder van die EcoSport, Genevieve Hossain, sê dat die botsing met die koedoe gebeur het toe hulle om 'n draai kom. "Ek het net gesien 'n dier spring voor die kar in en daar was te min tyd om te reageer omdat dit so skielik is.
"Die koedoe het op die bonnet beland terwyl sy kop aan my kant van die windskerm gekap het. Ons het as ware eye to eye gekyk so naby was hy, as ek my oë toemaak sien ek nog steeds sy oog."
Volgens Hossain het die koedoe nie op impak gesterf nie, maar 'n paar meter van die toneel neergeslaan.
Sue-lanya Ewerts (middel) het onlangs haar BEd.honneursgraad verwerf. Haar trotse ouers is van links, Hentie en Henna Ewerts.
Sue-lanya Ewerts, een van die insittendes wat aan die passasierskant gesit het, vertel dat sy steeds koue rillings kry as sy aan die voorval dink:
"In my jare wat ek by Valkteplaas UCC Primêr skoolhou, het ek al heelwat koedoes oor die pad sien loop as ons ry. Dan vererg ek my altyd, min het ek geweet een sou eendag voor ons inhardloop. Terwyl ek op my foon was, het ek uit my linkerkantse oog iets gewaar en ek was dadelik lam in my hele lyf. Ek kon nie praat of skree soos gewoonlik nie, self nie na die helse slag toe die koedoe ons tref nie.
"Weens die skok het dit my 'n hele rukkie geneem om tot verhaal te kom, maar bo en behalwe alles is ek net dankbaar dat ons almal niks oorgekom het of dat dit in die aand gebeur het nie."
Ewerts sê dat die polisie en paramedici gou op die toneel was om hulp te verleen en die dooie koedoe, is ook verwyder.
Volgens Ewerts het die onderwysers by Vlakteplaas nou onderneem om meeste van hul ekstra kurrikulêre aktiwiteite so vroeg moontlik te skeduleer en ook om voor die son sak vanaf Vlakteplaas na Oudtshoorn te vertrek.
" Alhoewel ons oor die algemeen versigtig en teen 'n lae spoed bestuur, sal ons van nou af selfs nog meer attent wees," het Ewerts gesê.
Vlakteplaas UCC Primêr was die volgende dag as gevolg van die voorval gesluit om die onderwysers geleentheid te gee om te herstel. Die skool het sy deure weer Maandag 6 Maart oopgemaak.
Die koedoe het nie op impak gesterf nie, maar 'n paar meter van die toneel dood neergeslaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'