Update
OUDTSHOORN NUUS - Nico du Bois se vooruitsig om na sy aftrede sy tyd aan perde te wy is verlede Woensdagaand tragies kortgeknip toe hy die aand voor sy aftrede in 'n motorongeluk omgekom het.
'n Gedenkdiens is Dinsdagmiddag by die NG Kerk Park in Buitekantstraat gehou. Sy oudste dogter, Adri, het gesê: "Pappa het verskriklik uitgesien na sy aftrede. Hy het groot planne met sy perde gehad."
Du Bois (65), wat bykans 14 jaar as senior veebemarker by die Klein Karoo Groep se Veebemarking en Veilings-afdeling gewerk het, sou op Donderdag 31 Augustus aftree.
Hy was Woensdag omstreeks 22:00 op pad huis toe na 'n afskeidsgeselligheid toe sy dubbelkajuitbakkie naby Surval Olyf Boetiekhotel die pad verlaat en gerol het.
Du Bois laat sy vrou Adamia en vier volwasse kinders, Adri, Jean-Maré, Nikki en Johan, vier kleinkinders, asook twee broers, Hannes en Niel agter.
Celia le Roux van die plaas Doornkraal naby die Stompdriftdam onthou hom as iemand wat altyd 'n plan gemaak het: "Hy het altyd 'n Plan A, B, C en D gehad en dit dan met Adamia se kameraadskap met soveel ywer en energie aangepak.
Hy was altyd positief, en as Nico by 'n vertrek instap, het dit glimlagte gebring.
Hy het mense aangeraak oral waar hy gaan en in almal 'n intense belangstelling gehad."
Du Bois was dikwels betrokke by veeveilings wat by die Kansa-veilingskrale op Volmoed gehou is. Laubscher Coetzee, van Volmoed, vertel: "Nico het male sonder tal by my opgedaag en koffie gedrink. Hy was werklik een van daardie mense wie se besoeke en teenwoordigheid nooit ontydig was nie, en waarna mens altyd in afwagting uitgesien het. Ek vind dit moeilik om myself in te dink dat ek nooit weer saam met Nico koffie sal drink nie."
Passie vir perde
Volgens Adri was haar pa lewenslank passievol oor perde en het kompeterend deelgeneem aan polo en uithouritte.
"Perdry was sy kerk en sy manier om naby die natuur te leef. Hy sou die dag na sy aftrede 'n ver ent saam met sy perdryvriende gaan ry het," vertel sy.
"In die yskas was 'n bak gekookte eiers en sy laaste selfoonoproep was om te reël vir die bak van 'n broodjie om vir almal ontbyt voor te sit." Volgens Le Roux het ruiters van die omgewing elke jaar 'n laaste perderit gereël.
"Ons het epiese perdrytogte saam met Nico aangepak. Een jaar moes die perde deur die Stompdriftdam swem, en nie alle perde is goeie swemmers nie. Dit was amper, of daar het 'n fout gekom. Ons klink 'n volstruisnaeltjie witblits op hom!"
Lees vorige artikels:
• Oorledene se naam bekend
• Bekende sterf dag voor aftrede
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'