Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bekende veebemarker en passievolle perdeliefhebber, Nico du Bois, is Woensdag-aand in 'n motorongeluk dood.
Die ongeluk het omstreeks 21:20 gebeur toe sy Toyota-bakkie sowat 9 km buite Oudtshoorn naby Surval gerol het.
Hy was op pad huis toe toe die bakkie regs van die pad afgeloop, omgeslaan en deur 'n wildheining gerol het. Met die aankoms van nooddienswerkers het die bakkie op sy sykant gelê en hulle het begin om die bakkie met meganiese toerusting oop te sny om die ernstig beseer-de Du Bois uit te haal.
Hy is egter oorlede kort nadat hulle op die toneel aangekom het.
Geskokte vriende het op die toneel saamgedrom en 'n paar het gehelp om die losgesnyde dak van die bakkie te verwyder om die liggaam uit te haal.
Volgens een van die vriende het die ongeluk plaasgevind 'n dag voordat Du Bois sou aftree. "Môre sou sy laaste dag by die werk gewees het, en nou gebeur so iets," het hy op die toneel gesê en bygevoeg dat Adamia, Du Bois se vrou in die Kaap is.
Du Bois was 'n senior veebemarker by die veebemarkings- en veilingsafdeling van die Klein Karoo Groep, waar hy sowat 14 jaar gewerk het. Hy is in Desember 1951 gebore.
Hy laat sy vrou Adamia, en vier volwasse kinders Adri, Jean-Marie, Niekie en Johan agter.
Lees vorige artikels:
• Oorledene se naam bekend
• Bekende sterf in ongeluk
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'