Update
OUDTSHOORN NUUS - "Geen geld het vermis geraak nie. Geen geld is wanbestee nie, en geen verlies vir die munisipaliteit is gely nie. Hierdie is 'n administratiewe aangeleentheid wat die munisipale administrasie besig is om te hanteer en wat die Valke tans ondersoek."
So het Walter Hendricks, Oudtshoorn se munisipale bestuurder, op 'n navraag gereageer nadat lede van die Oudtshoorn-burgemeesterskomitee, onder leiding van PA-raadslid Suzane Jansen (voorsitter van die tegniese dienste departement), verlede Woensdag 'n saak van bedrog teen twee munisipale amptenare en die Oudtshoorn-munisipaliteit by die Oudtshoorn-polisie aanhangig gemaak het.
Volgens Jansen is sy verlede week vir die eerste keer deur die ANC se Zoe Tyatya (wat waarneem wanneer die burgemeester of onderburgemeester nie beskikbaar is nie) ingelig dat daar op 15 Desember verlede jaar na bewering bedrieglike oorbetalings van ongeveer R3 miljoen binne haar departement via 'n vervalste faktuur van 'n konstruksiemaatskappy gemaak is.
Martin & East is deur die munisipaliteit op 'n drie jaar kontrak aangestel tot 30 Junie 2020 vir die herseël en rehabilitasie van paaie.
Die saak is glo reeds in Februarie onder die aandag van die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, gebring.
Volgens Jansen het Gerald de Jager, die waarnemende munisipale bestuurder op daardie stadium, op 26 April in 'n vergadering met die burgemeesterskomitee bevestig dat die Valke reeds 'n ondersoek begin het en dat die interne ouditeur van die munisipaliteit, Phillip Nel, 'n interne verslag opgestel het.
Oudtshoorn Courant is in besit van 'n e-pos waarin Martin & East bevestig dat die betrokke faktuur 'n vervalsing was deurdat die kontraknommer daarop bedrieglik is en die bankrekeningbesonderhede daarop vir 'n rekening is wat nie aan Martin & East behoort nie.
Die vervalste faktuur is ook nie deur Martin & East voorberei of deur hulle ingedien nie.
Geen deel van die R3 miljoen wat op die faktuur geëis is, is ook aan Martin & East uitbetaal nie.
Die twee amptenare van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wie se name op die beweerde bedrieglike oorbetalingsfakture verskyn, is bekend aan Oudtshoorn Courant.
Jansen sê dat sy een van die beskuldigdes genader het om te bevestig of hy kennis dra van die saak waarvoor hy beskuldig word, waarop hy geantwoord het dat hy glo in daardie tydperk met verlof was en sy datasleutelkodes vir iemand gegee het, wat volgens Jansen, ook onaanvaarbaar is.
Jansen eis nou dat die amptenare ter sprake tydelik geskors moet word tot hul onskuld bewys is omdat die Valke reeds die munisipaliteit besoek het om die saak te ondersoek.
"Ek kan nie sulke tipe onreëlmatighede in my departement onder my watch duld nie. Die feit dat ek nou eers daarvan te hore kom is vir my die ergste.
"Wat kon ons gemeenskap nie met R3 miljoen gemaak het nie?" wou sy weet.
Chris Mcpherson, raadslid van die DA, het op 'n perskonferensie aan die media gesê dat dit onwettig vir 'n raadslid is om 'n klag by die polisie in te dien tensy die munisipaliteit nooit teen 'n aangemelde klag opgetree het nie.
"Die raadslede weet goed dat as hulle 'n klagte teenoor 'n munisipale amptenaar het hulle dit by die munisipale bestuurder moet aanmeld vir optrede. Die feit van die saak is dat die munisipale bestuurder reeds opgetree het en dat die saak tans by Valke is.
Die vraag is ook of Tyatya die bevoegdheid gehad het om hierdie vertroulike inligting oor te dra omdat daar reeds 'n ondersoekproses aan die gang is. Dit benadeel die posisie van die persone wat aangekla is. Hierdie is 'n klugspel deur 'n paar raadslede om politieke punte vir hul partye te score," het Mcpherson gesê.
Walter Hendricks
Chris Mcpherson. Foto's: Wyndham Ewerts
Vorige artikel: R3 Miljoen Rand Bedrieglike transaksies by munisipaliteit
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'