Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het vanoggend amptelik bevestig dat die 18-jarige vrou wat in gister se ongeluk gesterf het Marilize Nortier is.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, moet daar nog 'n lykskouing gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.
Daar is ook nog nie sekerheid oor hoe die ongeluk gebeur het nie.
Die Oudtshoorn Courant het gister berig dat haar liggaam gisteroggend uit die wrak van 'n BMW gesny is.
Die botsing het in die vroeë oggendure gebeur toe die BMW op die grottepad die pad verlaat en in 'n waterkanaal te lande gekom het. Plaaswerkers het die wrak eers teen 07:30 opgemerk waar dit op die sykant in die water gelê het.
Sy was nog in die passasierssitplek vasgegordel. Dit blyk dat iemand die bestuurder 'n rukkie voor die wrak opgemerk is, langs die pad gekry het, maar nie geweet het daar is 'n passasier in die motor nie.
Visser sê 'n klag van strafbare manslag word ondersoek.
Lees 'n verwante artikel: Vroeë oggend Grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'