Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Klag van dronkbestuur word ondersoek nadat die bestuurder van 'n rooi Volkswagen Maandagmiddag die hasepad gekies het na hy in Olivierstraat (die stegie agter Checkers) met 'n stilstaande voertuig gebots het.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die bestuurder van die voertuig Maandag in hegtenis geneem en is hy Dinsdagoggend op waarskuwing vrygelaat op afwagting van die bloedtoetse.
Volgens 'n getuie op die toneel, het die bestuurder van die Volkswagen uit Hoogstraat in Olivier-straat ingedraai toe hy met die geparkeerde voertuig gebots het.
"Die bestuurder het stilgehou en bietjie agteruitgery en toe weer vorentoe. Hy het toe weer in die wit voertuig vasgery. Een van die personeellede van 'n nabygeleë winkel het na die bestuurder gekom en gesê hy moet hardloop," het die getuie gesê.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was 'n vrou, wat haarself as die bestuurder van die Volkswagen se vrou voorgestel het, op die toneel. Sy het met die polisie gepraat en gesê dat dit haar man se voertuig was.
Die eienaar van die geparkeerde voertuig was in Checkers en het eers toe sy uitkom die ongeluk gesien.
Die bestuurder van die Volkswagen het eers nadat die toneel opgeruim is, en almal reeds weg was, na die ongelukstoneel teruggekeer. Die ooggetuie het die polisie gebel waarna die bestuurder na die polisiestasie geneem is.
Lees 'n vorige artikel: Bestuurder verdwyn van ongelukstoneel af
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'