Update
OUDTSHOORN NUUS - Met ses dae oor voordat die eerste SWD-Super-A-liga wedstryde afskop het Bridgton-rugbyklub se nuutaangestelde afrigter, Glen Klaas, besluit om uit frustrasie met interne politiek, die handdoek in te gooi.
Hy is in Januarie vanjaar eenparig deur Bridgton-rugbyklub se nuwe bestuur as hoofafrigter van Bridgton-rugbyklub aangestel.
Tydens 'n onderhoud met die Oudtshoorn Courant het Klaas gesê hy het hierdie drastiese stap geneem as gevolg van verdeeldheid in die bestuur en interne politiek.
Volgens Klaas is hy twee weke gelede ingelig dat hy ewe skielik nie goed genoeg geag word nie en dat hy deur Walt Bohme (onderwyser en rugbyafrigter by Bridgton Sekondêr) vervang sou word.
Daar is toe glo, op versoek van Klaas ooreengekom dat hy die leisels by die B-span moet oorneem of as alternatief die hulpafrigter van Bohme moes wees. Bohme het glo egter op die nippertjie besluit om te onttrek omdat hy reeds ander afrigting-verpligtinge het.
"Dit was uiteraard vir my 'n moeilike besluit omdat ek die klub tot groter hoogtes wou voer. Interne politiek en verdeeldheid in die bestuur en spelers het my egter genoodsaak om te onttrek.
"Die minste wat die klub kon doen was om my 'n regverdige kans te gee om my te bewys. Ek is seker die eerste afrigter in die geskiedenis wat aangestel word en dan nie toegelaat word om 'n volwaardige wedstryd te hanteer nie."
Volgens Klaas was daar onder andere weerstand teen die dissipline wat hy genoop was om toe te pas. Volgens hom wou swak gedissiplineerde spelers oefen wanneer dit hulle pas, maar geregtig voel om in oefenwedstryde te speel.
Die bestuur se weiering om Klaas te beskerm wanneer dié spelers dan hul ontevredenheid teenoor die bestuur uitspreek as die afrigter dissipline wil toepas was 'n bykomende frustrasie vir hom.
Volgens Klaas het die klub ook tans 'n gebrek aan voldoende oefentoerusting.
Ian Laubscher, voorsitter van Bridgton RVK, het by navrae gesê dat Bridgton se bestuur Maandagaand tydens 'n spelers- en bestuurs-vergadering vir Eldridge van Dyk as afrigter van die A-span aanstel het. Van Dyk is verlede jaar deur Bridgton se seniorspelers aangestel nadat die vorige bestuur disfunksioneel geraak het.
Wat Klaas se bedanking betref wou die bestuur op hierdie stadium geen kommentaar lewer nie.
Bridgton se eerste SWD-Super-A-liga wedstryd van die seisoen skop Saterdag by die Bridgton-sportterrein teen Evergreens van George af.
Vorige artikel: Klaas bedank as Bridgton-afrigter
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'