OUDTSHOORN NUUS - Kunste Onbeperk het dr. David Piedt verlede week vereer vir sy bydrae tot die KKNK.
Die toekenning is Donderdagaand by die Zeitz MOCAA-museum in Kaapstad tydens die programbekendstelling van vanjaar se KKNK gedoen.
In hulle verklaring sê Kunste Onbeperk, "Dr. David Piedt is 'n vryheidsvegter, Afrikaanse aktivis, Oudsthoorniet, opvoedkundige spesialis en al vir dekades 'n onverskrokke ondersteuner van die KKNK. Hy is al sedert die beginjare van die fees 'n steunpilaar en het onder meer 'n belangrike rol gespeel om al die gemeenskappe van Oudtshoorn en omgewing by die fees betrokke te kry."
Piedt se commendatio is deur sy vriend, die oud-ambassadeur en ook 'n ontvanger van die einste prys, dr. Franklin Sonn, gelewer. Tydens sy toespraak het Piedt gesê mense moet nie bang wees vir 'n nuwe samelewing nie. Hy het vertel hoe hy as 'n apartheidsaktivis sy hele persepsie oor Afrikaans as die taal van die onderdrukker moes aanpas en dit gebruik om brûe te bou.
"Ons moet as 'n nuwe geïntegreerde Afrikaanssprekende gemeenskap, 'n vlag hys en vir Suid-Afrika sê wie ons is sodat ons op die lange duur vir die groter geheel 'n baie breër prentjie kan gee."
Piedt was nie die enigste persoon wat vereer is nie. Die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem is aan Figure of 8 Dance Collective toegeken. Schalk Joubert, die baskitaarspeler en musikant, het die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys ontvang terwyl die aktrise Anna-Mart van der Merwe die Kunste Onbeperk-prys vir Vertolking gekry het. Vinette Ebrahim was die ontvanger van die Kunste Onbeperk Inspirasie-prys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'