OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK is 'n kanniedood-fees wat vir jare nog met ons gaan wees. Dit is ook 'n fees van dankbaarheid en hoop.
So vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat verlede Sondag ten einde geloop het.
"Dit het al ons verwagtings oortref. Daar sal mos maar altyd die suurknolle wees wat iets gaan vind om oor negatief te wees, maar wat ons wil hê mense moet onthou dat dit die heel eerste fees na Covid is.
"Ons is dus die baanbrekers in die feesindustrie en wil graag vir ander feeste wys dat dit wel moontlik is om 'n fees met reëls te hê."
Vertonings
Theart sê hoewel die fees kleiner as gewoonlik was, was die sale vir vertonings bykans elke keer vol en meeste vertonings uitverkoop.
Die topverkopers was Ek, Anna van Wyk, Terminaal 3, Ek wens, Ek wens, Spertyd, Grensloos en Spoegwolf.
"Ons vertonings het ongelooflik goed gedoen. Selfs ons kunste het puik gedoen. Dit is ook waaroor die kunstefees gaan.
"Ons kunstenaars, hetsy akteurs of visuele kunstenaars, het dié platform nodig, en ons het hulle nodig. Mens kon sien hoe uitgehonger was mense om weer toneelstukke te kon bywoon en gesellig musiek te luister." Volgens Theart het selfs die kindervermaak fantasties gedoen.
Nuwe fees
Theart glo verandering is die enigste konstante ding in die lewe. "Niks bly ooit dieselfde nie, mense sukkel om by verandering aan te pas. Die fees verander ook. Die ekonomie het weens Covid 'n geweldige knou gekry, maar Kunste Onbeperk het nooit gaan lê nie. Ons het ongelooflike goed reggekry gedurende die laaste twee jaar en ons kon dit vanjaar in die fees inkorporeer."
Theart sê hy weet mense was negatief omdat daar nie weekskaartjies was nie, maar as kostes van die toegang uitgewerk word, beloop dit dieselfde as wat gewoonlik gevra word vir 'n weekskaartjie.
Elaine van der Toorn saam met die feesvolstruise.
Wat die inentings betref, sê hy, was dit 'n strategiese besluit.
"Sonder dit sou die fees nie kon aangaan nie. Dit was 'n ongelooflike finansiële inspuiting vir die dorp. Wat inentings aanbetref gaan mense se opinies daaroor altyd verskil, maar moet mense begin besef dat almal se opinies geldig is en kan ons nie ons opinies op ander afdwing nie. Ons reëls het presies ingeval by wat ons president Maandagaand gesê het toe hy die ramptoestand gelig het."
Kontantloos is hier om te bly.
"Dit is nuwe goed waaraan mense moet gewoond raak. Dit is op die einde van die dag veiliger vir almal, ook die kinders."
Volgens hom is dit nog te vroeg om te sê presies hoe goed dit met die fees gegaan het.
"Ons moet nou met personeel en die direksielede gaan sit en nabetragting hou. Die datums vir die volgende fees word ook tydens die Kanna-oorhandigings op
22 April in Kaapstad bekendgemaak.
"Wat ons wel kan sê is, vir 'n eerste fees post-Covid, het hierdie een al ons verwagtinge oortref."
Mary Sinbanda was een van die kunstenaars wat tydens die KKNK uitgestal het. Foto: Elaine van der Toor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'