OUDTSHOORN NUUS - Vir die eerste keer sedert 1996 word daar weer konserte in die Kango-grotte tydens die KKNK aangebied. Slegs twee konserte word eenmalig met spesiale toestemming aangebied en beloof om twee onvergeetlike aande te wees.
Die eerste konsert is Karen Zoid Unplugged in die Kango-grotte, 'n akoestiese vertoning saam met die kitaarspeler Henry Steel op 27 Maart.
En op 28 Maart is dit Charl du Plessis met Die Kango-grotte-konsert, 'n solo-klavieruitvoering op 'n Steinway-klavier.
Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK, sê: "Die Kango-grotte is een van Oudtshoorn se trotse aanloklikhede, 'n magiese natuurlike erfenis in die Klein-Karoo. Dit is werklik 'n groot voorreg om as deel van vanjaar se KKNK die grotte deel te maak van die fees en twee besonderse konserte hier aan te bied.
"Die KKNK is 'n bestemmingsfees en met die unieke ervaring kan ons ook met die Klein-Karoo se natuurlike erfenis spog en dit ten toon stel. Ons wil ook 'n wyer bewusmaking oor die Kango-grotte stimuleer en as deel van die geleenthede dra ons by tot die fondse om dié kosbare erfenis te bewaar."
Karen Zoid sê: "Ek besef dat ek ongelooflik bevoorreg is om die geleentheid te kry om in die beeldskone, geskiedkundige skat wat die Kango-grotte is, te kan optree. Dis nie almal wat kan sê dat hulle konsert gehou het in 'n grot nie. Ek en Henry Steel sien verskriklik uit om deel te word van die oer-oue akoestiek van die Van Zyl-saal in die grotte."
Charl du Plessis sal die eerste pianis ter wêreld word om 'n solo-klavieruitvoering in die grotte aan te bied op Internasionale Klavierdag.
Die Kango-grotte is na raming oor 'n tydperk van 20 miljoen jaar gevorm en nog nooit was daar 'n uitvoering op 'n vleuelklavier in hierdie historiese baken nie. Die 88 klawers van die klavier word wêreldwyd op die 88ste dag van die jaar gevier wat in 2020 op 28 Maart tydens die KKNK val.
Oor dié vooruitsig sê Du Plessis: "Om in die Kango-grotte te speel was al vir soveel jare my droom - die ruimte, die akoestiek, die donkerte en die klanke wat 'n mens omvou. Ek het nooit gedink die logistieke nagmerrie om 'n Steinway daar in te kry sou moontlik gemaak word deur die KKNK nie en sal hulle ewig dankbaar wees."
Alison Moos, die operasionele bestuurder van die Kango-grotte sê: "Kango-grotte sien daarna uit om twee welbekende Suid-Afrikaanse kunstenaars hier te verwelkom. Hierdie is 'n eksklusiewe en 'n eenmalige ervaring en ons deel graag die uniekheid van die Kango-grotte met konsertgangers."
Streng riglyne word gevolg en beperkte aantal kaartjies word beskikbaar gestel om te verseker dat die konserte geen impak op die grotte sal hê nie."
Albei konserte kos R500 elk, en sluit iets om te eet en te drink in voor die aanvang van die uitvoerings. Verversings sal om 19:00 bedien word en die konserte begin om 20:00.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'