NASIONALE NUUS - Die Mededingingskommissie het gister bevestig dat Suid-Afrika se twee grootste rolspelers in die volstruisbedryf, Klein Karoo Internasionaal (KKI) en Mosstrich mag saamsmelt.
Dit volg nadat die twee maatskappye se aanvanklike aansoek in Desember 2018 deur die Mededingingskommissie afgekeur is.
Die twee maatskappye het in Januarie 2019 die besluit van die tribunaal betwis en voorleggings is in Julie vanjaar deur die tribunaal aangehoor.
Na voorleggings van die twee maatskappye, volstruisboere en kleinhandelaars is die besluit gister by wyse van 'n persverklaring van die Mededingingskommissie bekend gemaak. (Die volledige persverklaring met voorwaardes vir die samesmelting is op www.oudtshoorncourant.com beskikbaar).
Die aanvanklike aansoek om samesmelting van die twee maatskappye is van die hand gewys uit vrees dat dit 'n monopolie in die bedryf tot stand sal bring.
Die maatskappye se argument was egter dat 'n samesmelting die volstruisbedryf, wat voor talle uitdagings staan, sal bevoordeel.
Volgens die mediaverklaring is die samesmelting onderhewig aan 'n hele aantal voorwaardes wat sal verseker dat die beskikbaarheid van volstruisvere, volstruisvleis en ander produkte geredelik aan handelaars in Suid-Afrika beskikbaar sal wees en dat ondernemings toegang tot die twee maatskappye se slagpale verkry.
('n Opvolgberig met kommentaar vanaf KKI en Mosstrich sal volgende week geplaas word.)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'