Update
DE RUST NUUS - 'n Man van De Rust, wat op twee aanklagte van kinderverkragting skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Cedric Konstabel (27) is daarvan aangekla dat hy 'n 9-jarige kind, wat na skool in die middae by hom gebly het, verkrag het.
Streeklanddros Daniël Boks het Konstabel se getuienis as leuenagtig en vals verwerp en die getuienis van die 9-jarige kind as geloofwaardig bevind.
Konstabel het die kind wat in sy sorg geplaas is omdat haar moeder gewerk het verskeie kere verkrag. Dit het gebeur wanneer sy bedags na skool tuisgekom het en haar skoolklere uitgetrek het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir lewenslange gevangenisstraf gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede voor die hof is om daarvan af te wyk nie.
Konstabel se getuienis was, volgens die landdros, een van totale ontkenning. Hy was in 'n vertrouensposisie wat hy heeltemal misbruik het. Die kind het getuig dat hy haar meer as een keer na die slaapkamer geneem en met haar geslagsgemeenskap gehad het.
Konstabel het erken dat daar 'n goeie verhouding tussen hom en die kind was en dus geen rede waarom sy hom valslik sou impliseer nie.
Die kind het 'n kronologiese uiteensetting van gebeure gegee wat nie verwerp kan word nie. Haar getuienis word ook deur die getuienis van die geneesheer wat haar ondersoek het, gestaaf. Die verkragting het 'n geweldige effek op die kind gehad en sy het selfs gewens dat die beskuldigde moet sterf.
Die hof kon geen wesenlike of dwingende omstandighede vind om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis nie. Hy toon ook geen tekens van berou nie.
Lees 'n vorige artikel: Skuldig aan kinderverkragting
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'