DE RUST NUUS - Die vonnisverrigtinge in 'n saak teen 'n man van Blomnek, De Rust, wat op twee aanklagte van kinderverkragting skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof vir instruksies aan sy nuwe regsverteenwoordiger uitgestel.
Cedric Konstabel (27) het die hof na sy skuldigbevinding versoek om 'n nuwe regsverteenwoordiger te kry omdat hy nie tevrede is met sy skuldigbevinding nie.
Konstabel het 'n negejarige meisie, wat in sy sorg geplaas is omdat haar moeder werk, verskeie kere verkrag. Dit het gebeur wanneer sy bedags na skool tuisgekom het en haar skoolklere uitgetrek het.
Streeklanddros Daniël Boks het in sy uitspraak Konstabel se weergawe verwerp en die getuienis van die kind as geloofwaardig bevind.
Konstabel se getuienis was volgens die landdros een van totale ontkenning. Hy was in 'n vertrouensposisie wat hy heeltemal misbruik het.
Die kind het getuig dat hy haar meer as een keer nadat sy van die skool gekom het na die slaapkamer geneem en met haar geslagsgemeenskap gehad het.
Volgens die landdros is daar genoeg bewyse voor die hof en die kind het 'n kronologiese uiteensetting van wat met haar gebeur het, gegee.
Haar getuienis word ook deur die getuienis van die dokter wat haar ondersoek het gestaaf. Die saak is vir vonnisverrigtinge uitgestel nadat Konstabel adv. Benito Metembo as sy nuwe regsverteenwoordiger aangestel het.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'