OUDTSHOORN NUUS - Kersvader het Oudtshoorn vanjaar vroeg besoek en geskenke vir die diere van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) uitgedeel.
Colleen Smith, voorsitter van Odin, sê hulle was verstom oor hoe goed die geleentheid ondersteun is.
"Mina Piedt was ons Kersvader.Ons het regtig 'n fees gehad. Ons het geskenke vir elkeen van ons honde gekry. Hulle het nuwe speelgoed, kosbakke, komberse en bederfies gekry. Inwoners was al vroeg by die skut om met die diere te kom stap en ons mark is ook goed ondersteun," vertel sy.
Hulle het ook lessenaarkalenders teen R70 elk verkoop. Volgens Smith word die gelde wat ingesamel word gebruik om salarisse en veeartsrekeninge te betaal.
"Ons het werklik soveel ondersteuning gehad. Mense van George en Oudtshoorn het pakkies gestuur om seker te maak dat elke hond 'n Kersgeskenk kry. Die mense was sommer weer gemotiveer om Odin te ondersteun. Ons personeel het ook geskenke gekry. 'n Vrou van George het baie moeite gedoen en 'n klomp geskenkbewyse en kospakkies vir hulle bymekaar gemaak."
Volgens Smith sou die dag nie moontlik gewees het as dit nie vir haar span en die diereliefhebbers was nie.
"Ansa de Jager, een van ons vrywilligers het die hele partytjie gereël en seker gemaak dat alles so mooi en perfek as moontlik lyk. Daarvoor sê ons baie dankie. Ons bedank ook almal wat gehelp het om van die dag 'n sukses te maak."
Daar is steeds kalenders te koop. Belangstellendes kan Mouton by 076 969 8152 kontak.
Lizelle Mouton en Ansa de Jager gee Patience se geskenk.
Lizelle Mouton en Anemie Church met Vinkel en Koljander.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'