Hy het die gemeente namens die munisipaliteit en die inwoners van Kannaland met die groot geleentheid gelukgewens en sterkte toegewens vir die volgende 122 jaar.
"Die kerk op Calitzdorp is een van die pragtigste geboue van die Evangelies-Lutherse Kerk in Suidelike Afrika (ELKSA). Dit is gebou deur mense wat nie miljoenêrs was nie," het biskop William Bowles Sondag tydens die onthulling van 'n spesiale hoeksteen gesê.
'n Gedenksteen ter nagedagtenis aan alle pastors en pastorvroue wat die gemeente sedert 1891 gedien het, is binne die kerkgebou deur pastor Karen Fourie onthul.
Bowles het die bouers van die kerk en almal wat oor die jare werksaam in die gemeente was, vir hul geloof, ywer en harde werk geprys.
"Ons dank ook die Here dat die gemeente van destyds die kerkmure na 'n brand in 1937 kon herbou en ook geseën het om die kerk in 1969 te vergroot."
Hy het tydens die feesdiens in die United Congregational Kerk 'n pleidooi gelewer dat die huidige Lutherse gemeente nie nou moet ophou werk nie.
"Die Here het jul voorgangers die krag gegee om die kerk te bou. Hulle was mense met deursettingsvermoë en ons moet dit nie vergeet nie," het Bowles gesê.
"Ons vat dinge deesdae te maklik as vanselfsprekend en baie van ons kerke het te spoggerig geword. Ons moet terugkeer na die Here en die oudstryders se voetspore volg, hoe moeilik dit ookal mag wees."
Gelukwensinge is tydens die diens deur verteenwoordigers van die Nederduits Gereformeerde Kerk en die United Congregational Kerk aan die Lutherse Kerk oorgedra.
Die diens is opgehelder met koorsang deur Lutherse kerkkore van Kraaifontein, Mosselbaai en Oudtshoorn, die Morawiese basuinkoor van die Wes-Kaap en die Oudtshoorn Liturgiese dansgroep.
Die kerk (in die middedorp) is in 1891 ingewy. 'n Brand het op 22 Augustus 1937 'n gedeelte daarvan verwoes. Dit is egter dieselfde jaar herstel en kon dienste weer vanaf Desember daardie jaar, gehou word.

Biskop William Bowles seën die gedenksteen ter viering van die kerk se 122ste bestaansjaar.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp | Klein-Karoo nuus'