OUDTSHOORN NUUS - Daar was die afgelope Sondag groot vreugde op Le Rouxrivier toe die gerestoureerde kerkgebou van die Oudtshoorn United Congregational Church amptelik tydens 'n feestelike toewydingsplegtigheid deur die gemeente ingewy is.
Volgens eerw. Johannes Muggels kon die gemeente die gebou wat oor die jare erg agteruit gegaan het, restoureer nadat die Oudtshoorn-munisipaliteit dit, asook die grond, aan die kerk geskenk het.
Hy het namens die kerk die munisipaliteit bedank asook die gemeentelede wat met die restourasie gehelp het.
Raadslid Jan van der Ross in wie se wyk Le Rouxrivier val, het in sy toespraak die munisipaliteit daartoe verbind om verdere hulp in die toekoms te verleen.
Die gebou het destyds ook as skool gedien en die laaste prinsipaal, Garnett Wicomb, het die kerk lof toegeswaai vir die opgradering van die gebou om as aanbiddingsplek vir die inwoners van Le Rouxrivier te dien.
'n Gedenksteen is deur Myrtle Muggels, eggenote van eerw. Muggels onthul waarna die kerkdeur deur wyksdiaken, Gert Olkkers, oopgesluit is.
Na die knip van die lint het eerw. Muggels die inwydingsdiens waargeneem na aanleiding van Efesiërs 2: 13-22.
"God het dit goed geag dat ons hierdie aanbiddingsplek kon oprig. Laat ons uitvoering gee aan die doel waarvoor ons hier saamgetrek het."
Eerw. Johannes Muggels en sy eggenote nadat die gedenksteen onthul is. Foto's: Garnett Wicomb
'We bring you the latest Oudtshoorn, Klein Karoo news'