Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Ubuntu Wildlife Sanctuary het Sondag 12 leeus en twee tiere, wat vanaf Noordwes getrek is, in hul nuwe tuiste tussen Oudtshoorn en Mosselbaai vrygelaat.
Ubuntu, wat voorheen in Noordwes gestasioneer was, het hierheen getrek om vir die diere 'n veiliger en beter tuiste te gee.
Die Ubuntu-span het vir 19 ure, saam met 'n groot groep mense, wat AfriForum se sekerheidspan, insluit, gereis om die reis vanaf Noordwes so gemaklik moontlik vir die diere te maak.
Fotogalery: Ubuntu Wildlife Sanctuary vestig in Eden
Hulle beywer hulle daartoe om onder meer die wildekatte, wat voorheen by sirkusse as troeteldiere aangehou, en waarvan baie van hulle mishandel is, te red.
Lees ook: Big cats arrive in Eden
"Ubuntu is vir meeste van hulle 'n laaste tuiste. Ons probeer om hulle laaste jare op aarde so gemaklik moontlik te maak waar hulle so na as moontlik aan hulle natuurlike lewe kan leef. Die leeus en tiere sal nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie omdat meeste van hulle handgrootgemaak is. Ons het byvoorbeeld vyf van die leeus, een mannetjie en vier wyfies, uit Oekraïne uit straatsirkusse gered. Van hulle was troeteldiere, maar sou uitgesit word. Hulle het gelukkig maklik by ons aangepas. Een van die tiere kom ook uit 'n sirkus waar sy so mishandel is dat een van haar tone afgeslaan is en sy verskeie ander gesondheidskwessies opgedoen het as gevolg van die mishandeling," het Jurg Olsen, bedryfshoof van Ubuntu, gesê.
Olsen se vrou en twee dogters is ook by Ubuntu betrokke. Volgens Olsen het hulle groot planne vir die nuwe perseel.
"Ons fokus ook op gemeenskapsuitreike. Om terug te gee vir die gemeenskap en sodoende ook bewusmaking te skep is vir ons baie belangrik. Ons werk veral ook met die bejaarde persone. Ons gaan ook fokus op bewaring van ander wild wat weens stropery in gevaar is. Ons wil ook kyk of ons van dié diere kan rehabiliteer sodat hulle weer na die natuur kan terugkeer."
Olsen sê sonder hul borge Uniwisp, De Goede Finance en Old Chapel Vets, sou hul trek nie moontlik gewees het nie. Ubuntu is nie 'n toerisme aantreklikheid waar mense die diere kan besoek nie. Vir meer inligting oor wat hulle doen besoek gerus hul webtuiste by www.ubuntuwildlife.com of hul Facebook-blad by Ubuntu Wildlife Sanctuary.
Jurg Olsen
Foto's: Liezl van Niekerk
Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'