KAROO NUUS - Die voortslepende kragonderbreking in 10 dorpe in die Karoo het vermoedelik 'n lewe geëis.
Een persoon is dood en nog een in die hospitaal, glo weens koolstofmonoksied-dampe wat as gevolg van 'n kragopwekker in Leeu-Gamka ontstaan het.
Eskom het Woensdag in 'n media-verklaring gesê dat hulle hoop om teen 15 Februarie heeltemal klaar met die herstelwerk te wees, maar het reeds goeie vordering gemaak en elektrisiteit aan van die geaffekteerde areas voorsien.
Luidens die nuutste verklaring van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, is die slagoffer 'n 18-jarige man.
Besighede en boere verloor tans miljoene rande en spook om kop bo water te hou.
Die onderbreking is die gevolg van sewe Eskom-transmissietorings tussen Touwsrivier en Laingsburg wat Saterdag-aand in gure weer ineengestort het.
Die Wes-Kaapse dorpe Roggeveld, Laingsburg, Ladismith, Leeu-Gamka, Swartberg, Merweville, Matjiesfontein en Prins Albert word geraak.
Bredell het by monde van sy woord-voerder, Wouter Kriel, gesê hy en die Wes-Kaapse premier, Allen Winde, asook senior lede van die provinsiale regering is Woensdag deur Eskom op hoogte gebring.
"Die Wes-Kaapse regering hou die situasie fyn dop en veilige drinkwater, voedselsekuriteit en toegang tot kritieke gesondheidsorg vir geaffekteerde inwoners is prioriteit."
Kriel sê Eskom het hulle ingelig dat konstruksiemateriaal in die Karoo aangekom het en dat drie konstruksiespanne voorberei vir die oprigting van tydelike strukture vir die heraansluiting van die Touwsrivier-Laingsburg 132KvH-lyn.
"Eskom het ook berig dat die fout op die Hawston Farmer 1-lyn tot 'n groot mate herstel is. 'n Mini-substasie moes Woensdag (7 Februarie) vervang word, en krag sou in die hele streek teen die einde van Woensdag (7 Februarie) herstel gewees het."
Bredell het Dinsdag geaffekteerde gemeenskappe in Prins Albert en Laingsburg besoek.
"As 'n provinsiale regering bly ons fokus op die veiligheid en welstand van ons inwoners. Ons monitor voortdurend die status van noodsaaklike dienste. Ons sal aanhou om alle moontlike ondersteuning aan Eskom te bied om die lyn so vinnig moontlik te herstel."
Verskeie kragopwekkers is aan gemeen-skappe gelewer.
Volgens die provinsiale departement van gesondheid bring kragopwekkers, oop vure, asook gastoestelle in swak geventileerde gebiede die risiko van koolstofmonoksiedvergiftiging mee, sowel as 'n brandgevaar.
Koolstofmonoksied is moeilik om op te spoor, omdat dit reukloos en kleurloos is. Blootstelling aan hoë vlakke van koolstofmonoksied vervang die suurstof in die bloed en veroorsaak hoofpyn, swakheid, kortasem en bewusteloosheid.
Prins Albert
Prins Albert se toerismebestuurder, Inga Terblanche, sê sommige toeriste het hulle besprekings in die dorp gekanselleer, maar nie in hoë getalle nie.
"Besighede probeer hard om als so normaal moontlik te hou. Daar is van die besighede wat hul tye aangepas het en restaurante wat byvoorbeeld net middagete in plaas van ontbyt én middagete bied. Dit het baie te doen met wie genoeg elektrisiteit het. Ons het ook besighede in die dorp wat sonpanele het wat hulp aanbied met byvoorbeeld 'n vrieskas of yskas."
Gay van Hasselt, 'n boer van Prins Albert sê die boere gaan miljoene rande verloor as gevolg van hierdie ramp.
"Ons kan op hierdie stadium glad nie die gewasse besproei nie en ons sukkel om water by die vee uit te kry omdat die pompe nie werk nie. Boere wat voer, soos lusern, vir die vee geplant het is besig om dit ook te verloor omdat die voergewasse weens droogte vrek. Ons kan ook nie oes nie."
Van Hasselt sê boere moes intussen kragopwekkers, watertenks en pompe aankoop om die situasie te probeer red.
"Mense wat vrugte en bessies uitvoer sit met ewe groot nood omdat hul koelkamers nie werk nie en hulle is vinnig besig om produkte te verloor. Die koste wat boere op die stadium moet aangaan net om hul vee en gewasse aan die lewe te hou is astronomies."
Ladismith
Ladismith se burgemeester, Jeffrey Donson, sê dit gaan beroerd in die dorp sonder krag.
"Veral arm mense en besighede is erg geraak. Dit gaan bitter met die arm mense wat nie opwekkers het nie. Mense moet hulle bederfbare produkte by mense met opwekkers bêre. Daar is baie kos wat weggegooi word. Niemand kan selfone laai nie. Mense kry nie geld by banke nie. Net twee winkels, Spar en Usave, kon mense help met All Pay."
Glen Diniz, eienaar van die plaaslike Spar.
Hy self het geen idee hoe lank dit nog gaan duur om die kragtoevoer te herstel nie.
Glen Diniz, eienaar van die plaaslike Spar, het aan Oudtshoorn Courant genoem dat hy sedert Sondag ongeveer R14 500 tot R15 000 per dag aan diesel bestee om sy besigheid so na as moontlik aan normaal te bestuur. Sy versekering dek slegs 'n klein persentasie van dié soort natuurrampe.
"Ons probeer om op pensioendae klante se behoeftes te bevredig. Daar is 'n afname in verkope omdat klante nie meer bederfbare produkte koop om te stoor nie. Ons dienste is ook gesny. Die bakkery is tydelik toe." Winkelure is ook beperk.
Diniz het sy teleurstelling met die gebrek aan kom-munikasie vanaf die kantoor van die burgemeester uitgespreek.
Riaan Oosthuizen en sy vrou, Ostelle.
CyberTEL, 'n plaaslike IT-diens-verskaffer se eienaar, Riaan Oosthuizen, sit sy krag-opwekkers om 01:00 af en tydens normale besigheidsure weer aan om 'n meer konstante vloei van internetdienste te verseker. Dienste soos internetdienste, ID-foto's en die stuur van e-posse gaan normaal voort. Hulle is ook beskikbaar vir dienslewering aan diegene wat nie van CyberTEL as diensverskaffer gebruik maak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’