Update
KAROO NUUS - Kragtoevoer na Prins Albert en Ladismith is herstel. Dit volg na kragtoevoer vir meer as 'n week afgesny was as gevolg van transmissietorings wat op 2 Februarie weens 'n storm omgeval het. Hoewel kragtoevoer herstel is, het die Kannaland-munisipaliteit luidens 'n verklaring wat deur die munisipaliteit uitgereik is besluit om aansoek te doen om Kannaland tot 'n rampgebied te verklaar.
"Hierdie resolusie kom in reaksie op die voortslepende krisis wat ons gemeenskap raak, wat onmiddellike aandag en hulpbronne verg om die Eskom-krisis wat besig is om te eskaleer in 'n humanitêre krisis te versag. Hierdie krisis is die gevolg van die ontwrigting in die Eskom-kragtoevoer wat op 3 Februarie plaasgevind het, waardeur weerlig verskeie van Eskom se hoogspanning-kraglyntoringstrukture ná uiterste weerstoestande in die omgewing van Worcester en Laingsburg getref het," het die verklaring gelui.
Daar word verder gesê dat die raad 'n verklaring van die premier van die Wes-Kaap, Allen Winde, oor die voorsiening van 'n kragopwekker aan Kannaland deur die provinsiale regering kommerwekkend vind.
"Die raad het verduidelik dat hoewel 'n kragopwekker wel op Donderdag 8 Februarie afgelewer is, dit nie die kapasiteit gehad het soos in die mediaverklaring vermeld is nie. In teenstelling met die inligting wat verskaf is, was die kragopwekker wat deur Kannaland ontvang is 'n 45KVA-kragopwekker, nie die 315KVA kragopwekker soos beweer deur premier Allan Winde nie."
Die verklaring lui verder dat die informele nedersettings toiletgeriewe benodig.
"Ons vra dringend vir ingryping van provinsiale sowel as nasionale regering om Kannaland-munisipaliteit in hierdie ramp by te staan. Ten spyte van hierdie uitdagings werk die Kannaland-munisipaliteit aktief daaraan om die welstand van sy inwoners te verseker. As deel van ons gebeurlikheidsplan is maatreëls ingestel om die voortgesette voorsiening van skoon water aan die gemeenskap te verseker. Die waterwerke in Ladismith funksioneer soos normaal, wat ons toelaat om ons verpligting na te kom om water aan ons inwoners te verskaf."
Oudtshoorn Courant kon nie daarin slaag om Kannaland-munisipaliteit vir verdere kommentaar te bereik nie.
Navrae is ook aan Winde, en minister Anton Bredell gestuur. Kommentaar sal geplaas word sodra dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’