OUDTSHOORN NUUS - Riëtte Koortzen, karnivoor-kurator van Cango Wildlife Ranch, het onlangs die PAAZA (Pan African Association of Zoos and Aquaria) Keeper Excellence Award by die 2023 PAAZA konferensie gewen.
Die toekenning word oorhandig aan 'n kurator wat besondere lojaliteit, belangstelling en passie vir die diere in sy/haar sorg getoon het.
Sy is deur die Cango Wildlife Ranch vir die toekenning genomineer.
Koortzen werk reeds sedert 2018 by die Cango Wildlife Ranch waar sy met leeus, tiere en 'n luiperd werk.
Riëtte Koortzen op haar gelukkigste by haar karnivore.
"Ek werk ook met kleiner karnivore soos bakoorjakkalsies, rooikatte en 'n tierboskat. Maar my hooffokus en liefde is by die cheetahs. Ons het op hierdie stadium 30 cheetahs in totaal (natuurlik net 'n handjie vol is op die Cango Wildlife Ranch, die ander is op ons privaat wildpark)," verduidelik sy.
Volgens haar is haar werk gevaarlik, maar het hulle baie veiligheidsmaatreëls in plek en hou sy streng by dit.
"Mens kan nooit te gemaklik raak of versigtig wees nie, al is hulle ons gewoond, hulle bly wilde diere en ons moet dit respekteer. My enigste close encounter was toe ek moes vleis sny en ek my vinger raak gesny het - ek moes twee steke kry," skerts sy.
Koortzen sê sy het regtig 'n passie vir haar werk en geniet elke oomblik.
"Nie een dag by die werk is dieselfde nie. Dit is ook nie almal wat die voorreg het om te kan doen wat ek doen nie. Ek werk dalk meestal met die karnivore, maar ons kry gereeld die geleentheid om met ander diere ook te werk. Dit is wat alles so opwindend maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’