Update
OUDTSHOORN NUUS - Die karkas van 'n groot hond, wat verlede week in die veld naby Bergsig op die honde-eenheid se pad gelos is, het vir etlike ure mense laat gis en bespiegel.
Die karkas is deur mans, wat daar verbygestap het, ontdek.
Hulle het 'n ou kombers wat met doringtakke bedek is, onder bosse opgemerk en ondersoek ingestel.
Hulle het 'n punt van die kombers opgelig en iets soos 'n ontbinde liggaam gesien en die polisie ontbied.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant was daar reeds verskeie polisiebeamptes en senior offisiere op die toneel en kapt. Louis Visser, woordvoerder van die polisie, het verduidelik dat daar op lede van die forensiese afdeling gewag word om die "liggaam" te ontbloot.
Volgens hom het die manier waarop die kombers met doringtakke toegemaak is, verdag gelyk en daar is besluit dat die forensiese span eers die hele toneel op film moet vaslê voordat daar bevestig word wat onder die kombers is.
Nadat boodskappe reeds op sosiale media geplaas is dat die liggaam van 'n onbekende persoon moontlik gevind is, het die forensiese span ontdek dat dit die karkas van 'n groot hond was.
Iemand wat op die toneel was het gesê dat 'n werker opgedaag het en gesê hy het opdrag van sy werkgewer gekry om die hond daar weg te gooi, maar volgens kapt. Louis Visser kon die bewering nie bevestig word nie en word geen saak ondersoek nie.
Vorige artikel: "Liggaam" toe ontbinde karkas van hond
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'