OUDTSHOORN NUUS - 'n Rooi Toyota Conquest, het verlede Saterdag vir groot drama in die Toekomsrus-gemeenskap in Petunialaan gesorg nadat dit letterlik tot in 'n gesin se sitkamer geploeg het.
Volgens Hermanus Wagenaar, die eienaar van die huis, het die voorval net na 12:00 plaasgevind en was daar gelukkig niemand op daardie stadium tuis nie.
"Ek het van die kerk af gekom toe ek die skare mense voor my huis sien. Toe ek nader gaan, sien ek net die agterkant van die kar wat deur my erfmuur gebars en byna in my sitkamer beland het. Ek kan net God dank dat my kleindogter nie tuis was nie, want sy sit gewoonlik op die bank waar die kar deur is."
Volgens Wagenaar is daar aansienlike skade aangerig wat sy muur, venster en raam insluit en het die eienaar van die betrokke motor, Danny Mei, reeds ingestem om die herstelkoste te dek. Intussen is twee plate solank voor die beskadigde venster vasgekap om hulle teen die elemente van die weer te beskerm.
Bestuur sonder toestemming
Mei se weergawe is dat hy totaal geskok was om van die insident te verneem omdat hy niemand toestemming gegee het om sy motor te bestuur nie.
Volgens Mei was hy en 'n paar kennisse die vorige aand by 'n kuierplek waarna hulle almal na sy woning teruggekeer het. Hy vertel dat een van die kennisse sy kar se sleutel gevra het waarop hy geweier het.
"Ek het uitdruklik elke keer 'Nee' gesê waarna ek 'n rukkie gaan lê het, omdat ek nog moeg gevoel het van die vorige aand se kuier. Na 'n ruk het mense my kom wakker maak dat my kar deur die mense oor die pad se muur gery en byna in hul sitkamer beland het. Soos wat ek verneem, het die bestuurder uit my erf terruggestoot en petrol, in plaas van rem getrap; vandaar die spoed waarmee die muur en venster getref is - die afstand van die versnelling is omtrent 30 meter. Daar was drie persone in die kar toe die voorval gebeur het. Ek was erg geskok, want dis nie iets wat ek graag wil hê met my moet gebeur nie. Ek en my twee seuns het reeds met Wagenaar gesels en ons het hulle verseker dat die skade binne die volgende twee weke herstel sal word. Wat dinge erger maak is dat een van die passasiers ten tyde van die voorval direk na die ongeluk met my kar se sleutel weggehardloop het," sê Mei.
Mei sê verder dat alhoewel sy kar darem nog kan aanskakel en ry na die voorval, hy ook sy hand diep in sy moet sak moet steek om die skade te herstel.
Polisieverklaring
Luidens 'n verklaring van die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is 'n 30-jarige man in hegtenis geneem na die voorval.
"Inligting wat in hierdie stadium beskikbaar is, dui daarop dat die polisie na die toneel gestuur is nadat 'n voertuig in 'n huis ingeploeg het."
"Die bestuurder van die voertuig is later in hegtenis geneem en is vrygelaat en gewaarsku om op 'n latere datum in die hof te verskyn. Ondersoek in hierdie saak duur voort."
Die agterkant van die Toyota Conquest het groot skade opgedoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’