KANNALAND NUUS - Inligting wat verlede week ontvang is dat die burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, Magdalena Barry, en onderburgemeester, Phillipus Antonie, hul bedankingsbriewe ingedien het, is die week bevestig, maar die bedankings is intussen teruggetrek. Albei is ANC-raadslede.
Volgens Ian Avontuur, woordvoerder van die burgemeester se kantoor, het Kannaland verlede Vrydag 'n raadsvergadering gehou, maar die bedankings was nie op die agenda nie.
Die Oudtshoorn Courant het in Oktober berig dat Barry en Antonie tugstappe deur die ANC in die gesig staar omdat hulle in weerwil van die party steeds met die DA-raadslede in Kannaland saamwerk. Twee briewe van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee waarin Barry en Antonie aangesê is om uit hulle poste te bedank is deur die twee geïgnoreer.
Hulle is reeds in Meimaand skriftelik opdrag gegee om hulle samewerking met die DA te staak.
Kannaland se raad is tans saamgestel uit dié twee ANC-raadslede, twee DA-lede en drie Icosa-lede. Sou die samewerking tussen DA en ANC skipbreuk ly sal Icosa soos in die verlede weer die septer in Kannaland swaai.
Volgens Avontuur het die raad eenparig besluit om die Wes-Kaapse regering te versoek om Kannaland onder administrasie te plaas.
By navraag oor die aansoek om administrasie het James-Brent Styan, woordvoerder van Anton Bredell, Wes-kaapse minister van plaaslike regering en omgewingsake, Woensdag bevestig dat die versoek ontvang is. Terwyl dit teen gister nie met Styan bevestig kon word nie, is daar in ander media berig dat Bredell wel te kenne gegee het dat 'n kabinetsbesluit geneem is om die administrasieproses te begin.
Phillipus Antonie, onderburgemeester van Kannaland.
Daar sou reeds op 7 Junie 'n raadsvergadering in Kannaland plaasvind, waartydens 'n besluit oor administrasie voorgelê sou word. Die vergadering is egter 'n uur voor die tyd afgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'