Update
OUDTSHOORN NUUS - Kannaland-munisipaliteit se R12 miljoen uitstaande Eskom skuld is vereffen.
Die munisipaliteit se burgemeester, Magdalena Barry, het Maandag dié aankondiging gemaak. Volgens Barry het die nuwe raad die skuld van die regering wat voor 3 Augustus 2016 aan bewind was, geërf.
"Ons het nie ons rug gedraai op ons uitdagings nie, en het die uitdagings heldhaftig en met hoop tegemoet gegaan."
Volgens die munisipale bestuurder, Reynold Stevens, het Eskom gedreig om die dorp se ligte af te skakel nadat die vorige administrasie nie sy Eskom-rekening betaal het nie.
"Ons moet die foute van die verlede erken en moet werkbare optredes in plek stel om 'n gesonde finansiële basis vir die toekoms te skep.
"Ek is daarvan oortuig dat Kannaland-munisipaliteit ferm op pad is om ons doelwitte te bereik. "Ons het binne 'n kort tydperk meer as die helfte van ons R70 miljoen skuldlas betaal, en dit kan net lei tot 'n gesonde finansiële posisie."
Barry het bygevoeg dat die munisipaliteit 'n geskiedenis het van wanadministrasie en swak finansiële bestuur.
Die huidige raad is trots op hierdie prestasie en ons werk hard daaraan om die beeld en integriteit van die munisipaliteit te herstel.
Barry het ook haar dank uitgespreek teenoor die munisipale bestuurder, Reynold Stevens en hoof van finansies, Bennie Strydom, vir hul leierskap om die finansiële herstelplan van Kannaland-munisipaliteit te dryf.
"Dit het vasbeslote en beginselvaste leierskap geverg om Kannaland op die regte pad te plaas," aldus Barry.
Lees 'n vorige artikel: Kannaland betaal sy Eskom skuld
"Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus"