KANNALAND NUUS - Die Kannaland-munisipaliteit het die week die hulp van die welsynsorganisasie, Gift of the Givers, ingeroep om te help om die waterkrisis in Zoar en Calitzdorp te help verlig.
Volgens Ian Avontuur, woordvoerder van die burgemeester, Magdalena Barry, het dié organisasie Dinsdag 50 000 liter drinkwater in Ladismith afgelaai.
Avontuur sê die water, wat in 5 liter kanne geberg is, sal deur munisipale amptenare in die wyke uitgedeel word.
Volgens hom het Ladismith nog genoeg water, maar is die damvlakke van die damme wat water aan Zoar en Calitzdorp voorsien kritiek.
"Die Nelsdam in Calitzdorp is tans 11% vol en daar word bereken dat Calitzdorp voldoende water vir die volgende vyf maande sal hê.
Die situasie in Zoar is egter kritiek, want die Tierkloofdam is slegs 10% vol, terwyl die ander dam in Zoar, die Jongelingsdam, slegs 20% vol is. Zoar het vir slegs drie weke water."
Avontuur het verder gesê dat streng waterbeperkings in Kannaland ingestel is en die munisipaliteit moedig inwoners aan om water spaarsamig te gebruik.
Hy sê die vlak 3-waterbeperkings wat ingestel is geld vir die hele Kannaland-distrik. Inwoners mag ondermeer nie tuine met 'n tuinslang natspuit nie, voertuie moet met emmers gewas word en plaveisel mag ook nie afgespuit word nie.
"Ons rampbestuursentrum werk saam met die Garden Route-distriksmunisipaliteit en die provinsiale regering. Ons is ten volle in beheer van die situasie en ons het gebeurlikheidsplanne in plek," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland nuus'