KANNALAND NUUS - Die proses om die Kannaland-munisipaliteit onder administrasie te plaas, is afgehandel en 'n administrateur is reeds aangestel.
In reaksie op 'n navraag aan minister Anton Bredell, minister van plaaslike regering en omgewingsake, het James-Brent Styan bevestig dat die munisipaliteit amptelik onder administrasie is.
Dit volg nadat die provinsiale kabinet teen die einde van verlede jaar 'n besluit geneem het om Kannaland onder 'n artikel 139(5) (c ) administrasie te plaas.
Volgens Bredell behels administrasie die aanstel van 'n administrateur wat voortaan verantwoordelik sal wees vir die implementering van 'n goedgekeurde finansiële herstelplan vir Kannaland.
"Die Kannaland-raad sal nie ontbind word nie, maar sal steeds wetgewende en uitvoerende magte behou wat nie deur die administrateur oorgeneem sal word vir die doeleindes van die finansiële herstelplan nie," het hy gesê.
Die departement van plaaslike regering het verlede jaar 'n versoek van die stadsraad van Kannaland ontvang om die munisipaliteit onder finansiële administrasie te plaas.
Volgens Bredell het die nuwe raad wat in 2016 verkies is as't ware 'n "bankrot dorp geërf" en voer hulle sedertdien 'n worstelstryd om finansieel die mas op te kom.
In 2016 het die munisipaliteit 'n skuldlas van R37,5 miljoen gehad en die bankrekening was met R1,8 miljoen oortrokke. Die dorp het ook gevaar geloop om kragtoevoer te verloor as gevolg van meer as R12 miljoen skuld aan Eskom.
Bredell het bevestig dat 'n ondersoek tans teen die vorige owerheid wat die dorp bestuur het, aan die gang is. Hy het gesê dat die besluit om administrasie toe te pas nie ligtelik opgeneem word nie en altyd in die beste belang van inwoners is.
Voor die plaaslike verkiesing in 2016 was die dorp onder die meerderheidsbestuur van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) onder burgemeesterskap van Jeffrey Donson. Na die 2016 verkiesing het die magsposisie verskuif toe die DA en ANC, elk met twee setels, 'n nie-amptelike samewerkingsooreenkoms gesluit het en die mag weggeneem het van Icosa se drie setels.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'