KANNALAND NUUS - Matrikulante in Kannaland het goed rekenskap van hulself gegee tydens die eindeksamen verlede jaar. Die drie skole het elk 'n goeie slaagsyfer behaal.
Hoërskool Ladismith, Hoërskool Calitzdorp en Ladismith Sekondêr het onderskeidelik 'n slaagpersentasie van 93,8%, 86,7% en 78,9% behaal. Die Eden- en Sentraal- Karoo-onderwysdistrik, waaronder hierdie skole ressorteer, het met 'n slaagpersentasie van 84,59% die tweede plek behaal naas die 85,40% van die Metro-Noord-distrik.
Jewel Jonkers, direkteur van die onderwysdistrik, het elke leerder en ouer geloof vir hierdie prestasie.
"Met net 0,8% agter die Metro-Noord-distrik is dit moontlik vir ons om volgende jaar die eerste plek te behaal," het Jonkers trots gesê.
Die skoolhoof van Hoërskool Ladismith, Donovan Fortuin, het gesê dat hy trots is op elke leerder en alle personeellede, "want die gr. 12-uitslae is nie slegs 'n refleksie van die gr. 12-opvoeder nie, maar van elke opvoeder wat 'n rol in die opvoeding van die matrikulant gespeel het."
Hoërskool Ladismith se toppresteerder
Die 19-jarige Clayton Haupt was nie slegs die hoofseun van Hoërskool Ladismith nie, maar was met 'n algehele slaagpersentasie van 68,5%, hul topleerder. Hy het in Afrikaans Huistaal 75% en in Engels eerste addisionele taal 83% behaal. Haupt sal graag aan die Universiteit van Stellenbosch meganiese ingenieurswese wil studeer en as tweede keuse verkies hy om regte te studeer. Hy noem egter ook dat hy graag sy punte in wiskunde en fisiese wetenskap in die Junie-hereksamen sal wil verbeter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’