KLEIN KAROO NUUS - Agt voertuie en twee meganiese laaigrawe is verlede week deur die Kannaland-munisipaliteit in ontvangs geneem. Volgens Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, is die provinsiale regering daartoe verbind om Kannaland met finansiële herstel te help.
Die kabinet het verlede jaar 'n besluit geneem om Kannaland onder administrasie te plaas waartydens 'n finansiële herstelplan in werking gestel word.
Volgens Bredell is een van die groot uitdagings waarmee Kannaland stoei, die lewering van basiese dienste.
Hy sê dat die stadsraad van Kaapstad 'n aantal voertuie op hulle bateregister, wat vir afskrywing kwalifiseer, beskikbaar gestel het om deur Kannaland aangekoop te word. Die provinsiale regering het bykans R500 000 aan Kannaland bewillig om die voertuie teen afslagpryse aan te koop.
"Alhoewel die agt bakkies en twee meganiese laaigrawe hulle dienstydperk in Kaapstad bereik het, is hulle nog in goeie bruikbare toestand," het Bredell gesê. Hy het bygevoeg dat die aankoop van die voertuie 'n dramatiese verskil in dienslewering aan die gemeenskap sal maak. Behalwe vir die voertuie het die provinsiale regering ook tien skootrekenaars gratis aan Kannaland voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'