OUDTSHOORN NUUS - Boere in die Wes- en Oos-Kaap wat lugdroogtabak verbou, het vanjaar vir boere van Limpopo ore aangesit wat produksie betref.
Jaco Malan, besturende direkteur van Universal Leaf South Africa (ULSA) het Vrydagaand tydens die jaarlikse erkenningsaand gesê die tabakboere van Oos- en Wes-Kaap (ongeveer 30 boere) se produksie van lugdroogtabak was vanjaar die beste in die land.
Die funksie word jaarliks deur ULSA geborg en dan word daar erkenning aan die toppresteerders in die bedryf gegee. Volgens Chris Botha, huidige voorsitter van die Tabakprodusentevereniging van die Wes- en Oos-Kaap is daar tans 27 tabakboere in die Wes-Kaap en drie in die Oos-Kaap.
Die wenners is in drie kategorieë aangewys wat bepaal word deur die verhouding tussen die opbrengs per hektaar en die aantal hektaar wat onder tabak is.
Die wenners was:
- Kategorie 1: Riaan Terblanche (eerste), JPS Trust (tweede) en Johannes Delport (derde)
- Kategorie 2: John Schoeman (eerste), Andries Fourie (tweede) en David Malan (derde).
- Kategorie 3: Chris Botha (eerste), Hardy Wessels (tweede) en Armand Vermaak (derde).
Die tabakboer van die jaar is ook Vrydag-aand aangewys. Die beste kleinboer van die jaar, ten opsigte van oesverbetering, is Rudie Strydom en die tabakboer van die jaar is Johan Schoeman.
Die wenners wat Vrydagaand tydens die funksie aangewys is, is van links: Riaan Terblanche (wenner van kategorie 1), Rudie Strydom (kleinboer van die jaar), John Schoeman (wenner van kategorie 2 en ook tabakboer van die jaar), Jaco Malan (besturende direkteur van ULSA), Marco-Jean Blom (ULSA-landboukundige) en Chris Botha (wenner van kategorie 3).
Vrydagaand se funksie vir tabakboere is in die kerksaal van die NG Kangovalleie gehou.
Gaste verkeer gesellig saam voor die aanvang van die funksie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'