LADISMITH NUUS - "My bors moet nie so klink nie. Bid vir my julle dat ek net gesond kan word, Covid is nie speletjies nie. Ek raai nie eens my vyand aan om so te voel nie. Pas julle op." So het die laaste stemboodskap van Marchelene (Mercy) Botha aan vriende gelui kort voordat sy verlede Woensdag oorlede is.
Sy was in diens van die Kannaland-munisipaliteit en is twee dae vroeër op Maandag 28 Junie positief vir Covid-19 getoets.
Botha was in isolasie in haar huis in Nissenville waarheen 'n ambulans Woensdag ontbied is toe haar toestand verswak het. Sy is egter dood voordat sy by die hospitaal besorg kon word.
Volgens kollegas was Botha 'n opgewekte mens met 'n sprankelende persoonlikheid. Emelia Meyer, het gesê Botha se teenwoordigheid in die kantoor kon enige somberheid verander na 'n opgewekte of ligter oomblik. "Mercy se opgewektheid het aansteeklik op die personeel ingewerk," sê Meyer. Sanet du Toit, plaaslike fotograaf, skryf op Facebook: "jy met jou sprankelende persoonlikheid...jou lus vir die lewe, jou vriendelike glimlag...ons fotosessie was 'n groot plesier".
Begrafnisreëlings vir Botha was teen druktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'