OUDTSHOORN NUUS - 'n Skut van slegs 16 en haar pa was onderskeidelik eerste en tweede by verlede Saterdag 13 Oktober se skietdag op Trutersdal.
Ané Viljoen en haar pa, Henco was twee van 26 skuts wat aan die skietdag van die SA Jagters Klein-Karoo satelliettak deelgeneem het.
Daar was drie kategorieë waarin skuts meegeding het nl: Vlakte Springbok tabel (300m – 200m), Bosveld Zebra tabel (150m – 50m) en die handwapen posliga (20m).
Ané se telling was 460 uit 'n moontlike 540 met ‘n goue skietbalkie in die Vlakte Springbok en Silwer in die Bosveld Zebra. Haar pa, Henco, was tweede met 370 uit 540 met ‘n goud op die Bosveld Zebra.
Frans de Winnaar was derde met 310 uit 540 punte en het ook ‘n goue skietbalkie op die Bosveld Zebra verwerf.
Nico van der Merwe was die wenner van die handwapen posliga met 'n telling van 173 uit 200.
Nog 'n jong skut, Braham Meiring (17) het aan die skietdag deelgeneem en aangesien hy aan al die wetlike vereistes voldoen sal hy waarskynlik eersdaags sy eie vuurwapen kan registreer alhoewel hy nog nie 21 is nie. Die volgende skietdag word op 10 November aangebied waar 'n nagskietoefening ook aangebied word.
Kontak Nico van der Merwe by 082 7816810 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'