OUDTSHOORN NUUS - Die 20-jarige man van Oudtshoorn, wat skielik verlede week na 'n kort siekbed oorlede is, se roudiens is Sondag gehou.
Volgens sy ouma, Elize Lategan, was Ricardo Knöll, binne 72 uur na hy siek geword het dood.
"Hy het verlede Maandag gesê hy het 'n vreeslike pyn oor sy borskas en sy hartklop is nie reg nie. Ek het hom hospitaal toe geneem en van daar af het hy net sieker geword. Hy is op suurstof gesit en later aan masjiene gekoppel. Die dokter het my gebel om te sê ek moet die masjiene afsit, maar dit was nie eens nodig nie. Hy is 07:20 Donderdagoggend dood. Ek het net sy gesiggie vasgehou en hy het sy laaste asem in my arms uitgeblaas."
Lategan sê volgens die dokters was dit moontlike 'n tipe TB wat hy opgedoen het.
"Dit is vreemd. Hy was nie eens siek nie. Sy hart en sy longe het egter as gevolg van die siekte ingegee."
Lategan sê Knöll en sy suster Kia woon sedert hulle babas was, by haar en haar man, Tyron.
"Daardie kinders is my hele lewe. Ricardo was die lig in ons almal se lewens en Kia vat dit baie moeilik."
Ricardo was 'n oud-leerder van Bridgton Sekondêr en het 'n passie vir baldans gehad.
"Hy was vriendelik en liefdevol en het altyd tyd gehad om almal te help. Hy het by Unisa aansoek gedoen om onderwys te studeer en het op terugvoering van sy beurs gewag."
Lategan sê hy wou baie graag 'n goeie werk hê om sy ouma en oupa finansieel te kon help.
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'