Update
OUDTSHOORN NUUS - Sy kan nie verstaan waarom ‘n leerder met ‘n Okapi-mes skool toe gaan nie.
So het streeklanddros Ntsoki Moni Vrydagoggend in die Oudtshoorn-streekhof gesê met vonnisoplegging van ‘n 21-jarige jong man wat aan moord op sy 14-jarige vriend skuldig bevind is.
Luqmaan Page was 19 toe hy die 14-jarige Cohan Hartnick die oggend van 22 November 2017, terwyl hulle onderweg was skool toe en oor R5 gestry het. Page het Hartnick met ‘n baksteen gegooi en toe Hartnick weerloos op die grond lê met ‘n Okapi-mes in die arm en bors gesteek.
Page het onskuldig gepleit en beweer dat hy uit selfverdediging opgetree en nie bedoel het om Hartnick te dood nie. Hy het ook nie gedink dat hy kon sterf nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof gevra om Page vir ten minste 12 jaar tronk toe te stuur omdat hy aan ‘n ernstige misdaad skuldig bevind is en geen berou toon nie.
Hy het die lewe van ‘n vrou se enigste kind kortgeknip en hom van ‘n blink toekoms ontneem.
“Dit is duidelik volgens die beskuldigde se eie weergawe dat hy nie uit selfverdediging opgetree het nie,” het Goulding gesê.
Page se regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof vir korrektiewe toesig, gekoppel aan ‘n opgeskorte vonnis gevra.
Streeklanddros Ntsoki Moni het gesê dat daar wel ‘n mate van provokasie was deurdat die oorledene die beskuldigde eerste met ‘n skêr gesteek het.
Volgens haar is ‘n skêr egter deel van ‘n leerder se skryfbehoeftes maar nie ‘n Okapi-mes nie.
Die beskuldigde het besluit om nie te getuig nie, maar wel ‘n pleitverduideliking ingedien en ‘n weergawe aan ‘n korrektiewe beampte gegee wat die hof nie as eerlik beskou het nie.
Die landdros het bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar en is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
*’n Aansoek van Page se regsverteenwoordiger om teen die skuldigbevinding en vonnis te appelleer is deur die staat teengestaan en deur die landdros van die hand gewys.
Vorige artikel: Skuldig aan moord op 14-jarige
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'