OUDTSHOORN NUUS - ’n Jong man van Bridgton, wat daarvan aangekla is dat hy die oggend van 22 November 2017 sy 14-jarige vriend, Cohan Hartnick, met ‘n baksteen gegooi en met mes gesteek het, is verlede week in die streekhof aan moord skuldig bevind.
Luqmaan Page (21) het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het.
Page sê in sy pleitverduideliking dat hy en die oorledene die betrokke oggend ‘n woordewisseling gehad het oor R5. Volgens hom wou Hartnick nie na rede luister nie en het hy Page met 'n skêr in die skouer gesteek. Page het kwaad geword en Hartnick met ‘n baksteen gegooi en teen die kop getref. Hy het Hartnick toe eenkeer met ‘n mes gesteek terwyl hy op die grond gelê het.
Volgens Page het hy nie bedoel om Hartnick dood te maak nie en ook nie gedink dat hy kon sterf nie. Hy het hom probeer help en op die toneel gewag totdat die polisie opgedaag het.
Die oorledene se moeder, Nateleen Hartnick, het getuig dat sy haar enigste kind vir ewig verloor het.
Die saak is vir vonnisverrigtinge deur streeklanddros, Ntsoki Moni, tot 28 Mei uitgestel omdat die beskuldigde se moeder te emosioneel was om ter versagting van vonnis te getuig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'